SAL kry R3,5 miljard van staatsbank
SAL kry R3,5 miljard van staatsbank

SAL kry R3,5 miljard van staatsbank

Francois Williams – Die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika (Obsa) het ingestem om R3,5 miljard te verskaf om die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) met sy sakeredding te help.

Die SAL sal onmiddellik R2 miljard hiervan kry en mense kan nou weer met ’n geruste hart vliegkaartjies by die SAL koop, het Les Matuson en Siviwe Dongwana, gesamentlike sakereddingspraktisyns van die lugdiens, Woensdagaand gesê.

Dit kom ná ’n week of wat van spanning waarin die regering nie vorendag gekom het met sy beloofde R2 miljard wat hy aan die SAL sou gee as deel van die ooreenkoms in Desember om die sukkelende lugdiens in sakeredding te plaas nie. Private handelsbanke het reeds R2 miljard se finansiering aan die SAL verskaf as deel van die ooreenkoms.

Die regering se R2 miljard moes 19 Januarie al ontvang gewees het, volgens die sakereddingspraktisyns, en in die week daarna moes die SAL 19 vlugte kanselleer, insluitende twee internasionale vlugte na München, Duitsland.

Volgens die sakereddingspraktisyns is die finansiering van Obsa bedoel vir korttermynkontantvloeivereistes om die lugdiens aan die gang te hou totdat die sakereddingsplan gepubliseer en aanvaar word.

Navrae oor wanneer die plan gepubliseer sal word, is nog nie beantwoord nie. Dit is ook nie duidelik hoekom die bedrag van R2 miljard nou skielik tot R3,5 miljard aangegroei en of dit ’n lening is wat die regering of die SAL later aan Obsa gaan terugbetaal nie.

Volgens die sakereddingspraktisyns is die finansiering wat van Obsa verkry is egter bedoel om vertroue aan passasiers, reisagente en lugdiensvennote van die SAL te gee dat hulle kan voortgaan om vliegkaartjies by die SAL te koop.

“Die herstrukturering van die SAL sal ’n geleentheid bied om ’n volhoubare, mededingende en doeltreffende lugdiens met ’n strategiese aandelevennoot te ontwikkel, en wat waar moontlik werkgeleenthede sal beskerm. Die SAL is ’n strategiese bate wat geposisioneer moet word om markte binne Suid-Afrika en die res van Afrika te verbind, asook om uitgesoekte internasionale roetes te bedien,” lui die sakereddingspraktisyns se verklaring. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer