Sakemanne slaap nie, su00ea Shuudifonya
Sakemanne slaap nie, su00ea Shuudifonya

Sakemanne slaap nie, sê Shuudifonya

Die Fishrot-beskuldigde mnr. Otneel Shuudifonya het tydens kruisondervraging volgehou dat hy geen geld gewas het nie en dat alle betalings betrekking tot besigheid, lenings of beleggings gehad het.
Kristien Kruger
Jemima Beukes – Regter Shafimana Ueitele het gister die Fishrot-beskuldigde mnr. Otneel Shuudifonya gevra om te verduidelik hoe hy, wat vir tien jaar as staatsamptenaar werk, daarin geslaag het om met sy dagtaak as adjunkdirekteur, sy studies en konsultasiewerk te verrig.

Ueitele wou ook weet wanneer Shuudifonya dit alles gedoen het en of hy met verlof by sy werkgewer was om hierdie pligte na te kom.

Shuudifonya het gesê dié aktiwiteite vereis nie die toewyding van 'n voltydse werk nie en hy het glo gedurende sy werktyd studente en akademiese navorsers gekontrakteer om hom te help om sy verpligtinge na te kom.

Op die vraag of hy glad nie slaap nie, het hy geantwoord, “Nee, jy slaap nie in besigheid nie. Dit was 'n geleentheid en dis hoe jy werk.”

GELD GLO NIE GEWAS

Hoewel Shuudifonya aan die hof erken het dat hy bewus is van die erns van die klagte teen hom, is hy van mening die staat het geen sterk saak teen hom nie.

Hy het ook verskeie kere ontken dat geld met gereelde kontantonttrekkings en oorplasings van groot bedrae van sy maatskappy Ndjako Investments na bankrekeninge aan sy medebeskuldigdes en hul sake-entiteite gewas is.

Volgens hom was hierdie betalings bloot om sy verpligtinge na te kom teenoor mense aan wie hy geld geskuld het, insluitend Otwafika Investments wat deur sy medebeskuldigde mnr. James Hatuikulipi besit word.

Hierdie betalings sluit ook 'n bedrag van sowat N$1,9 miljoen in wat hy aan Gwanyemba Investment Trust (GIT) betaal het. Dit was volgens hom 'n beleggingsbydrae vir die mynbedrywighede in Angola.

Die geld is volgens hom gebruik om mynboutoerusting vir die projek aan te koop, maar dié toerusting is ten einde vir 'n bedrag van N$7,4 miljoen gekoop.

Ueitele het hom gevra om hierdie bedrag te ontleed en sodoende te verduidelik waar die bydraes vandaan kom, maar hy kon dit nie doen nie, omdat hy nie tans toegang tot sy bankstate het nie.

Daar is ook 'n oorbetaling vanaf Ndjako Investments, waarin Shuudifonya belange het, aan JTH Investments, wat deur sy medebeskuldigde mnr. Tamson Hatuikulipi besit word. Die betaling hou glo verband met besigheid wat gelewer is.

“Ek ken Tamson Hatuikulipi as 'n sakeman – mnr. Tamson is ook 'n vishandelaar en ek het van tyd tot tyd van sy trok gebruik gemaak om my vis te vervoer,” het hy gesê.

Dit het ook geblyk dat Shuudifonya in sommige gevalle belastingfakture sou uitmaak vir dienste wat nie gelewer is nie om 'die begroting te verseker'.

Ueitele het dit aan hom gestel dat as hy nie dienste lewer nie, hy homself aanspreeklik vir belastingbetalings sal maak.



NOG 'N N$317 MILJOEN-­KORRUPSIESAAK

Die staat het hom ingelig dat hy op baie ernstige klagte teregstaan, insluitend rampokkery, sameswering met die medebeskuldigdes in die Fishrot-skandaal, bedrog, diefstal, geldwassery en korrupsie.

Shuudifonya is ingelig dat hy boonop daarvan aangekla word dat hy deel is van 'n kriminele onderneming wat meer as N$317 miljoen wanbestee het.

Hierop het hy gesê: “Ek was nooit deel daarvan nie.”



SELF AAN POLISIE OORGEGEE

Hy het ontken dat hy vir 'n week verdwyn het toe sy lasbrief vir inhegtenisneming uitgereik is en gesê hy was met siekverlof en bloot tuis aan die herstel.

“Dis normale praktyk as jy ná die naweek siek word. As ek op 'n Sondag siek word en ek kan nie op 'n Maandag werk toe kom nie, dan sal ek my werk inlig. Ek dink dit was 'n Saterdag wat ek siek geword het en ek was in die noorde,” het hy gesê.

Hy het erken dat hy sy prokureurs ingelig het om die owerhede in te lig om nie na hom te soek nie, omdat hy self by die polisie sal aanmeld.

“Ek het by hulle gepleit om nie hul hulpbronne te mors nie, want ek sal myself oorgee. Die opdrag van my prokureur was egter dat die lasbrief reeds uitgereik is en hulle my sou arresteer wanneer hulle my sien,” het hy gesê.
[email protected]

FOTO
Mnr. Otneel Shuudifonya. Foto Argief

Kommentaar

Republikein 2025-09-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer