Sakelui visumvry
Sakelui visumvry

Sakelui visumvry

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Suid-Afrikaners wat Namibië vir konferensies of vergaderings besoek, het nie ’n sakevisum nodig nie en moet slegs ’n besoekers­toegangspermitstempel by grensposte ontvang.
Die ministerie van binnelandse sake en immigrasie het op 19 Mei ’n persverklaring uitgereik om te sê diegene met Suid-Afrikaanse paspoorte wat Namibië besoek vir vakansie, besoeke aan vriende of familie, die bywoning van konferensies (dit sluit nie in om as fasiliteerder op te tree nie), vergaderings of slypskole, die verkenning van besigheidsmoontlikhede of mediese behandeling, het nie ’n sakevisum nodig nie. Dit tel alles onder vakansie- of toerisme-doeleindes en Suid-Afrika is een van die lande wat van visumvereistes vrygestel is.
Die verklaring is deur die permanente sekretaris van die ministerie van binnelandse sake en immigrasie, ambassadeur Patrick Nandago, uitgereik. Dit was in reaksie op die Namibiese Kamer van Handel en Nywerheid (NCCI) se mediaverklaring vroeër vandeesmaand dat die regering se besluit oor sakevisums in Maart ’n beduidende negatiewe uitwerking op oorgrens-sakebedrywighede tussen Namibië en Suid-Afrika gehad het.
Die sakesektor het gekla dat Suid-Afrikaanse sakelui sedert Maart glo vir sakevisums by die Namibiese Hoëkommissariaat in Pretoria moes aansoek doen voordat hulle na Namibië kon reis. Die NCCI het ook gesê dit ontvang daagliks klagtes hieroor. Die kommissariaat het glo ook aan die NCCI gesê dat dit net opdragte van die Namibiese regering uitvoer.
Die ministerie ontken egter dat enige nuwe visumregulasies vir die buurland se sakelui ingestel is.
“Geen veranderinge is ooit aan die immigrasiewet of -beleid gemaak wat net op Suid-Afrikaanse sakelui van toepassing is nie,” het Nandago in die verklaring gesê.
“Die ministerie wil die feite regstel. Slegs in gevalle waar sakelui Namibië binnekom om by hul filiaalmaatskappye te werk deur byvoorbeeld opleiding aan werknemers te gee, oudits te kom doen of vrywilligerswerk kom doen, is hulle verplig om vir ’n werks­permit of sakevisum aansoek te doen.
“Ons hoop dat dié verduideliking alle misverstande uitklaar.”
Suid-Afrikaanse media het egter in Maart berig dat nuwe visumregulasies glo deur Namibië ingestel is nadat hulle met ’n woordvoerder van die hoëkommissariaat in die buurland gepraat het. Volgens die woordvoerder moes sakelui ook vir vergaderings en die bywoning van konferensies ’n sakevisum kry.
Me. Cristina Cicognani, bemarkingsbestuurder van die Namibiese Toerismeraad (NTB) in Kaapstad, stel egter voor dat diegene wat Namibië met ’n besoekerstoegangspermit besoek, verkieslik ’n uitnodigingsbrief van iemand uit Namibië byderhand hou wanneer hulle die grensposte binnekom.
“Jy het nie nodig om aansoek te doen vir ’n sakevisum voordat jy ­vergaderings, slypskole of konferensies bywoon nie, maar moet op die grens die stempel vir ’n besoekers­toegangspermit in jou paspoort kry. Dit kos nie geld nie en vereis geen ­bykomende papierwerk nie,” het sy gesê.

Burgers van die volgende lande word ook vrygestel van visumvereistes as hulle Namibië vir vakansie- of toerismedoeleindes besoek. Verskeie ander lande is ook vrygestel, maar kon weens beperkte ruimte nie almal hier gelys word nie:
Angola
Botswana
Duitsland
Malawi
Mauritius
Mosambiek
Singapoer
Swaziland
Verenigde Koninkryk
Amerika
Zambië
Zimbabwe

Kommentaar

Republikein 2025-09-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer