Saints se mans kampioene ná rekordseisoen

Hokkie
Die hokkieklub Saints se premierliga-manspan is ná die afgelope naweek se aksie as die 2019 Bank Windhoek nasionale binnenshuise ligakampioen bekroon.

Saints het Vrydagaand die span van die Deutscher Turn und Sportverein (DTS) met 10-3 oorrompel en Saterdagaand vir Unam met 7-1 verslaan. Die kampioenspan het die afgelope seisoen nie minder nie as 66 doele geslaan en 'n skrapse agt afgestaan.

Thomas Duncan, skakelbeampte van die Namibiese Hokkieunie, sê: “Saints het inderdaad 'n rekordseisoen beleef – nie net gemeet aan dié klub se geskiedenis nie, maar enige span in die premierliga.

“Saints het onder die leiding van afrigter Trevor Cormack in 'n formidabele eenheid ontwikkel wat in 'n klas van hul eie is. Hul uitslae spreek vanself.”

Die meerderheid van Saints se spelers is deel van 'n hoëprestasie oefengroep wat onlangs by 'n interprovinsiale toernooi in Suid-Afrika presteer het.

Namibië het die silwermedalje losgeslaan nadat hy naelskraap met 3-2 teen die Westelike Provinsie die knie moes buig. Baie van dié spelers speel die afgelope agt jaar saam en neem jaarliks aan die binnenshuise ­franchise-reeks in die RSA deel.

Volgens Duncan het die oefengroep geweldige diepte en met die jeugdige ouderdom van die spelers is hokkie in Namibië gunstig geplaas om in die regte rigting te beweeg.

Mans reserweliga: NUST het Vrydagaand daarin geslaag om die ander studentespan, Unam, met 3-2 te klop. Unam het egter ná dié loesing hergroepeer en het Angels met 6-1 getroef, hoewel Saints met 5-2 te vernuftig vir Unam was.

DTS oorskadu op sy beurt vir NUST met 2-0 en Wanderers verslaan Angels op Saterdag met 3-1.

Van die wedstryde is Sondag gespeel, waar Unam vir Wanderers (5-0) klop en Saints met 7-0 teen Angels seëvier. Saints is tans met 23 punte eerste op die ligaleer gevolg deur DTS op 22 en Old Boys derde met 18 punte.



VROUE

In die premierliga is Saints met 16 punte die voorloper op die puntelys, gevolg deur Unam en Old Boys wat saam op sewe punte in die tweede posisie lê. Saints het Saterdagaand Unam met 5-2, Wanderers vir DTS met 2-0 en Unam vir DTS met 3-0 oorskadu.

In die reserweliga was net een botsing geskeduleer. Angels klop Wanderers met 4-1 om boaan die ligaleer met 15 punte te wees. Saints is tweede (14) en die Coastal Raiders pronk in die derde posisie met agt punte, met Wanderers vierde op sewe.

Die volgende ronde van die Bank Windhoek binnenshuise liga vind die komende naweek by DTS in Olympia en The Dome in Swakopmund plaas.

Kommentaar

Republikein 2026-03-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer