Safland Sewes: Kenia wys hoe dit gedoen word

Die Namibiese aanslag op die toernooi het gemengde welslae opgelewer.
Adolf Kaure
Adolf Kaure en Andrew Poolman - Die verskil in klas was so duidelik soos daglig tussen die Keniane en die res van hul uitdagers, toe die 2017 Safland sewesrugbytoernooi Saterdag by die SFC-sportveld op Swakopmund sy hoogtepunt bereik het.

Kenia het in die bekereindstryd die Suid-Afrikaanse Select-span met 19-12 geklop om die trofee vir die eerste keer in te palm. Dit was soete wraak vir die Oos-Afrikane, wat in verlede jaar se finaal die knie teen die Blitsbokke moes buig (31-10).

Kenia was nie eens op volle sterkte in die opbou na die HSBC Wêreldsewesreeks nie, maar sy nuwelinge wat uit hul nasionale liga bevorder is, het seepglad by hul geoliede masjien ingeskakel en gewys waarom dié nasie soveel sukses in die sport behaal.

Die Keniane se krag en kondisionering, hardlooplyne en algemene organisasie wat hulle ook na die 2016 Olimpiese Spele gevoer het, was ’n les vir die res van die Afrika-spanne wat ooglopend nog jare agter hulle is.

In ’n televisie-onderhoud ná die eindstryd het Kenia se mees hoëprofiel speler Willy Ambaka gesê die span put bevrediging uit hul goeie vertoning om die toernooi as kampioene af te sluit.

“Ons het hard gewerk en die ouens het goed gespeel. Hierdie soort toernooie is baie waardevol om die vlak van sewesrugby in Afrika te verbeter en ons ondersteun graag sulke toernooie as ’n bydrae tot die groei van die spel.”

In die semifinaal het die Keniane die Namibiese Akademiespan met 38-0 oorskadu.

Die Akademiespan – basies ’n nasionale o.20-kombinasie met ’n paar senior versterkings – was een van die verrassingspakkies in die toernooi en het hul talent gestand gedoen om die algehele derde plek in die toernooi in te palm.

Onder afrigterskap van David Philander en Roger Thompson het die Akademiespan wel twee keer teen Kenia pak gekry, maar onder die omstandighede was dit geen skande nie.

Die Akademiespan het in die uitspeelwedstryd vir die derde plek teen Dukla (’n span van die Tsjeggiese Republiek wat ook ’n paar Suid-Afrikaners bevat het) met 21-17 die knoop deurgehaak. Vanweë beserings het Philander hier self die speeltrui aangetrek en het nie net aanvoorwerk vir Collins Omalu se twee wegholdrieë gedoen nie, maar sy eie wendrie in die regterhoekie was eenvoudig ’n tipiese sesnasionele stukkie werk om vier verdedigers te klop.

Soos gewoonlik het die senior nasionale afrigter, Jurie Booysen, nie toegang tot die vyftienmankode se topspelers soos Philander gehad nie en het sy taak om die toernooi se logistiek agter die skerms te laat vlot, straks ook ’n invloed op sy span se vertoning gehad.

Waarskynlik die enkele mees verrassende uitslag van die toernooi was toe die Namibiese studentespan Tisan hul uitklopwedstryd teen die senior nasionale span gewen het. Chess Lawrence se twee drieë, nog een deur Milaan van Wyk en die wendrie deur Lorenzo Louis het vir Tisan die uitslag met 22-19 beklink.

Tisan was met tye ’n ewe giftige spannetjie en hul opbou lyk belowend vir 2018, wanneer hulle juis op Swakopmund die gasheerspan vir die Wêreldstudentetoernooi in sewesrugby gaan wees.

Die Namibiese nasionale span was wisselvallig en hoewel enkele individue uitstaande spel gelewer het, moes hulle uiteindelik met die sewende eindposisie tevrtede wees toe hulle Botswana met 26-10 verslaan het.

Op die eerste dag het Namibië met 12-0 teen Kenia verloor. Hulle was teen Zambië ook rustyd agter (7-12) voordat hulle losgetrek en met 26-12 gewen het.

Uit die oogpunt van die drie Namibiese spanne het spelers soos Philander, Chess Lawrence, Collins Omalu, Nikin Cloete, Mahco Prinsloo, Lorenzo Louis, Nandivatu Karuuombe, Milaan van Wyk en Janry du Toit gewys dat daar geen tekort aan spoed en vernuf is nie. Eenvoudig gestel, dit kos bloot ’n behoorlik uitgevoerde program om spelers in die seweskode te kondisioneer en die samespel en vaardighede te verfyn, sodat Namibië ook op ’n hoër vlak kompeterend kan raak.

Die Suid-Afrikaanse Select-span het in sy halfeindstryd vir Dukla Tsjeggiese Republiek met 22-10 uitgeskakel om die finaal te haal.

In sy derde bestaansjaar het die Safland Sewes, wat vir die tweede keer op Swakopmund aangebied is, etlike honderde toeskouers gelok. Vir die deelnemende spanne is dit ook ’n waardevolle opbou na die HSBC Wêreldreeks en ander groot toernooie in die komende seisoen.

Die uitslae van Saterdag se finale uitspeelwedstryde vir posisies:

Zambië 38-5 Lesotho (vir negende plek)

Namibië 26-10 Botswana (vir sewende plek)

Bulls 26-7 Tisan (vir vyfde plek)

Namibië Akademie 21-17 Dukla Tsjeggië (derde plek)

Kenia 19-12 SA Select (bekerfinaal)

Kommentaar

Republikein 2025-10-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer