SADC-lugmagte oefen in Namibië

Yochanaan Coetzee
Yochanaan Coetzee - Die ministerie van verdediging het lede van die publiek dié week aangeraai om nie paniekerig te raak indien hulle militêre vliegtuie en personeel van ander Afrika-lande plaaslik opmerk nie.

Die Kunenestreek was sedert Sondag die toneel van 'n massa- militêre oefening om humanitêre- en ramphulp in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) se streek te verbeter.

Maj.genl. Penda ya Ndakolo, minister van verdediging, het die militêre oefening, wat tot 7 September sal voortduur, gister by Onafhanklikheidstadion op Oshakati amptelik geopen.

Die Blue Kunene-militêre oefening, waaraan die lugmagte en -vleuels van 10 SADC-lande, insluitende Namibië, deelneem, beoog om die ontplooiingskapasiteit van die SADC-bystandsmag in die geval van humanitêre of natuurlike rampe in enige van die Afrika-lande te verbeter.

Só het maj. Petrus Shilumbu, waarnemende hoofwoordvoerder van die ministerie van verdediging in 'n verklaring gesê.

“Die militêre oefening behels sowat 1 000 lugmaglede en 'n groot aantal militêre vliegtuie van die verskeie SADC-lugmagte. Die vliegtuie gaan gebruik maak van die Internasionale Lughawe Hosea Kutako, die Ondangwa-lughawe en die Ruacana-vliegveld. As gevolg hiervan sal 'n groot getal vliegtuie in die Oshana-, Omusati- en Kunenestreek gesien word,” het Shilumbu bygevoeg.

In die verklaring vra die ministerie ook verskoning vir enige ongerief wat hierdie oefening kan veroorsaak en dat algemene vlieëniers en reisagente wat in dié gebiede gaan vlieg, op die uitkyk vir die militêre vliegtuie moet wees - veral vir laagvlieënde helikopters. Die ministerie vra ook vir geduld omdat die lugweë vir die duur van die oefening baie bedrywig sal wees. Die publiek is ook gewaarsku om, ter wille van hul eie veiligheid en dié van die vlieëniers, nie van die Opuwo-lughawe gebruik te maak nie.

Kommentaar

Republikein 2025-05-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer