• Tuisblad
  • Sake
  • SABMiller, Coke ‘sal honderde miljoene’ in bedryf inpomp
SABMiller, Coke u2018sal honderde miljoeneu2019 in bedryf inpomp
SABMiller, Coke u2018sal honderde miljoeneu2019 in bedryf inpomp

SABMiller, Coke ‘sal honderde miljoene’ in bedryf inpomp

Jo-Mare Duddy Booysen
Hanlie Stadler - SABMiller en Coca-Cola­ is bereid om R800 miljoen te belê om ver­skaffers, kleinboere – ook appelboere wat vir Appletiser appels kan lewer – en winkels in swart besit te ontwikkel.
Die partye wat betrokke is by die stigting van Coca-­Cola Beverages Africa (CCBA) – SAB­Miller, Coca-Cola en Gutsche Family Investments – het met die Suid-Afrikaanse regering ooreengekom op voorwaardes vir die samesmelting wat tot Afrika se grootste botteleringsmaatskappy sal lei.
Namibië en die gemeenskaplike mark vir Suider- en Oos-Afrika (Comesa) het die transaksie­ reeds onvoorwaardelik goedgekeur en Kenia en Tanzanië het ’n aantal voorwaardes gestel. Nóg lande se goedkeuring word ingewag.
Gutsche Family Investments is die beherende aandeelhouers van Coca-Cola Sabco, wat naas SABMiller die grootste Coke-botteleerder in Afrika is.
Die hoop is dat die same­smelting dan vinniger deur die Mededingings­tribunaal, wat Maandag daaroor begin sit, goedgekeur sal word.
Coca-Cola sal ook verseker dat mededingers genoeg koelkasruimte kry in klein winkels, insluitend spaza-winkels.
Die nuwe maatskappy sal vir drie jaar ná die goedkeuring van die transaksie sy totale aantal werknemers onveranderd laat. Geen onvrywillige skeidingspakkette sal as gevolg van die samesmelting onder werknemers in die bedingingsraad (vakbondlede) plaasvind nie en die afleggings van senior bestuurslui sal “beperk” word, sê SABMiller in ’n Sens-­verklaring.
CCBA se hoofkantoor sal ook in Suid-Afrika geleë wees.
Dié voorwaardes word nou aan die Mededingingstribunaal voorgelê, wat oor die samesmelting moet beslis. Die tribunaal se sitting oor die saak begin op 9 Mei.
As die samesmelting goedgekeur word, sal dit ’n botteleringsreus vir koeldrank in 12 lande in Suider- en Oos-Afrika­ skep wat nagenoeg 40% van al die Coca-Cola-produkte per volume in Afrika verkoop. Dit sal ’n jaarlikse inkomste van US$2,9 miljard hê.
In die eerste fase van die samesmelting word aanlegte in Suid-Afrika, Kenia, Ethiopië, Mosambiek, Tanzanië, Uganda, Mayotte en die Comoro-­eilande saamgesmelt. Botswana, Swaziland en Zambië word in die tweede fase geïntegreer. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-09-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer