Sables storm na 100-tal
Sables storm na 100-tal

Sables storm na 100-tal

Rugby
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Die Welwitschias sal baie deeglik voorberei moet wees indien hulle Namibië se status as Rugby Afrika se verteenwoordiger by die laaste ses Wêreldbekertoernooie wil behou.

Met die afhandeling van Rugby Afrika se bekertoernooi vir 2021 die afgelope naweek is twaalf lande nou uitgedun tot die Top Agt wat volgende jaar in die beslissende uitklopwedstryde om WB-kwalifisering betrokke sal wees.

Die verskeie skokuitslae van die afgelope weke dien as 'n teken dat Namibië geen gerustheid kan toelaat nie en sal moet reg wees vir 'n stryd tot die dood.

Namibië en Kenia het beide 'n blouoog gekry teen onderskeidelik die Ivoorkus en Senegal, maar het nietemin oorleef vir volgende jaar wanneer dit saakmaak.

Die goeie nuus is dat Namibië bloot met drie opeenvolgende oorwinnings sy plek by die 2023 Wêreldbeker in Frankryk sal verseker.

Boonop sal die eerste hiervan teen Burkina Faso wees, wat die afgelope naweek met 101-3 deur Zimbabwe in Harare afgeslag is.

Tunisië moes sonder dat hy een wed­stryd kon speel, sy aanslag prysgee vanweë sy Covid-19-vlakke. Burkina Faso en Zimbabwe speel dus twee wedstryde in Harare (die tweede is vir komende Donderdag bestem) om te bepaal wie eerste en tweede in die groep eindig.

Afrigter Brendan Dawson se Zimbabwiese Sables onder aanvoering van die flink en ervare skrumskakel Hilton Mudariki behoort dus die eerste betekenisvolle hekkie in die pad van Allister Coetzee as Namibiese afrigter te wees.

In Kampala het Uganda hom ook teen alle verwagtinge in teen Algerië vasgeloop (16-22), maar beide spanne is nietemin deur en Ghana is uitgeskakel.

Die bepalings vir die Top Agt-toernooi (plek en datum nog nie vasgestel nie):

Kwarteindstryd 1, A1 teen D2: Namibië teen Burkina Faso

Kwarteindstryd 2, D1 teen A2: ­Zimbabwe teen Ivoorkus

Kwarteindstryd 3, B1 teen C2: Senegal teen Algerië

Kwarteindstryd 4, C1 teen B2: Uganda teen Kenia

Semifinaal 1: Wenner 1 teen Wenner 2.

Semifinaal 2: Wenner 3 teen Wenner 4.

Finaal: Wenner SF 1 teen Wenner SF 2.

FOTO
Algerië vier fees in Kampala nadat hulle Sondag vir Uganda met 22-16 verras het om tot Rugby Afrika se Top Agt kwarteindtoernooi volgende jaar deur te dring. Foto Twitter (UgandaRugby)

Kommentaar

Republikein 2025-08-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer