'Saam kan ons oorwin'
'Saam kan ons oorwin'

'Saam kan ons oorwin'

Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste het gister by sy landgenote gepleit vir groter waaksaamheid en persoonlike verantwoordelikheid.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Namibiërs kan die verspreiding van Covid-19 stop as hul skares vermy, maskers dra en tuisbly wanneer hulle siek is. Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, het gister by sy landgenote gepleit vir groter waaksaamheid en persoonlike verantwoordelikheid van “elke enkele Namibiër” om sy deel te doen om die verspreiding van die siekte in sy spore te stuit.

“Voor jy uitgaan, vra jouself of dit nodig is. As ons na openbare plekke toe moet gaan, hou dit so kort as moontlik en dra sonder enige uitson­dering jou masker wanneer jy naby ander mense is,” het Shangula gesê.

Hy het inwoners gemaan om hulself, hul bure, hul gemeenskappe en die land te beskerm.

“Saam kan ons Covid-19 oorwin.”

Shangula het gister 74 nuwe gevalle aangekondig wat die totaal op 1 917 te staan bring. Hiervan is 56 op Walvisbaai, drie op Swakopmund, een op Omaruru, vier in Windhoek, vier op Lüderitz, twee op Oshakati, twee op Rundu, een op Onandjokwe en een op Okahandja. Uit die 74 is 54 mans en 20 vroue. Die ouderdomme wissel van 15 tot 77 jaar. Verskeie van die nuwe gevalle het geen reisgeskiedenis of kontak met 'n bevestigde geval nie.

Die geval op Omaruru is 'n 57-jarige man met geen reisgeskiedenis of kontak met 'n bevestigde geval nie. Hy het gekla van chroniese rugpyn en is as deel van 'n aktiewe soektog na gevalle getoets.

Die gevalle van Rosh Pinah in die Lüderitz-distrik is almal werknemers van Spar en kontakte van 'n bevestigde geval.

Die gevalle vir Windhoek is soos volg:

• 'n 37-jarige man wat met Covid-19-verwante simptome in 'n private hospitaal opgeneem is. Hy het geen reisgeskiedenis of kontak met 'n bevestigde geval nie.

• 'n 21-jarige vrou en lid van die Khomas-streekraad met geen reisgeskiedenis of kontak met 'n bevestigde geval nie.

• 'n 21-jarige vrou wat onlangs van die Ohangwenastreek gereis het. Sy is volgens 'n versoek van haar familie in Windhoek in kwarantyn geplaas. Sy het geen simptome of enige kontak met 'n bevestigde geval gehad nie.

• 'n 28-jarige man met geen reisgeskiedenis of kontak met 'n bevestigde geval nie.

Die twee gevalle op Oshakati is:

• 'n 47-jarige gesondheidswerker met Covid-19-verwante simptome wat net met 'n pakkie in aanraking gekom het wat deur 'n bevestigde geval hanteer is.

• 'n 35-jarige man met geen reisgeskiedenis of kontak met 'n bevestigde geval nie.

Die gevalle op Rundu het van Walvisbaai gereis en was in kwarantyn. Een is 'n 15-jarige leerling en die ander 'n 36-jarige man.

Die geval op Onandjokwe is 'n 29-jarige gesondheidswerker wat tydens sy verlof na Windhoek en Grootfontein gereis het. Hy het met sy terugkeer Covid-19-verwante simptome ontwikkel en het geen kontak met 'n bevestigde geval gehad nie.

Die geval op Okahandja is 'n 33-jarige man van die militêre basis Oropoko, wat onlangs na Windhoek gereis het. Hy het simptome getoon en was in kwarantyn.

Volgens Shangula het drie gevalle op Walvisbaai herstel, naamlik gevalle 292, 306 en 315.

Die aantal aktiewe gevalle staan tans op 1 805; 104 mense het ten volle herstel en 24 325 weefselmonsters is tot op hede getoets.

Tans is 1 387 mense in kwarantyn in geriewe oraloor die land.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-07-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer