Saak van aanranding teen All Black laat vaar
Saak van aanranding teen All Black laat vaar

Saak van aanranding teen All Black laat vaar

Rugby
Die drie aanklagte van aanranding teen die All Black-losvoorspeler Shannon Frizell is laat vaar.
Stuff berig die saak is Dinsdag in Dunedin in die hof aangehoor.
Frizell (27) was nie teenwoordig nie nadat die hof hom verskoon het.
Die saak het gespruit uit ’n voorval in ’n plaaslike nagklub in Mei toe Frizell na bewering ’n vrou en ’n man aangerand het.
Die polisie het bevestig die aanklagte is teruggetrek nadat Frizell sy samewerking gegee en ’n ooreenkoms met owerhede bereik het. Hy het onder meer beradingsessies bygewoon en sal dus nie ’n misdaadgeskiedenis hê nie.
Frizell, ’n Tongaan van geboorte, het ná sy eerste verskyning in Julie die buite die hof ’n verklaring uitgereik.
“Ek wil hierdie geleentheid gebruik om te sê hoe jammer ek is vir my gedrag in die voorval in Mei vanjaar.
“Ek wil veral die twee mense wat betrokke was, verskoning vra en ook vir die skade wat ek aangerig het,” het Frizell gesê.
“Ek het myself en ook ander in die steek gelaat, en sal my bes doen om mense se vertroue in my te herstel. Ek het reeds ’n plan van aksie om met behulp van beraders aan sekere aspekte van myself te werk.”
Die All Blacks is tans in Queensland waar hulle voorberei vir hul drie oorblywende Rugbykampioenskaptoetse teen Argentinië en Suid-Afrika (twee kragmetings).
Dis nog onduidelik of Frizell hom by sy spanmaats in Australië sal aansluit.
– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-12-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer