SA skuld kan 95% van BBP haal as dít skeefloop
Die Internasionale Monetêre Fonds beveel aan lande se skuldvlakke moet onder 60% gehou word, anders is dit buite beheer.
Nellie Brand-Jonker – Ekonome van die Instituut van Internasionale Finansiering (IIF) het in ’n ontleding van verskillende scenario’s van ekonomiese groei bereken dis moontlik dat Suid-Afrika se skuld in verhouding tot bruto binnelandse produk (BBP) oor ses jaar 95% kan bereik.
Tito Mboweni, minister van finansies, het in Oktober verlede jaar voorspel die hoogste vlak wat die staatskuld gaan bereik, gaan 59,6% teen 2024 wees. ’n Paar maande later, in Februarie vanjaar, is getoon dit gaan teen einde Maart daardie jaar 60,2% bereik.
Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) beveel aan lande se skuldvlakke moet onder 60% in toom gehou word, anders is dit buite beheer.
Die IIF se raming van 95% word behaal wanneer die mees pessimistiese aanname oor ekonomiese groei gebruik word in ’n ontleding om te bepaal wat met die skuldverhouding kan gebeur.
Dit is gegrond op ’n situasie waar die ekonomie gemiddeld teen 0,5% per jaar tussen 2019 en 2024 inkrimp.
Die ekonome van die IIF sê die volhoubaarheid van Suid-Afrika se skuld word toenemend bevraagteken.
“ ’n Dekade van institusionele wanbestuur het strukturele hindernisse vir groei geskep deurdat dit sakevertroue ondermyn, belegging ontmoedig en produktiwiteit verlaag.
“Lae groei, tesame met swak belastingadministrasie, is die hoofrede vir die swak vertoning in inkomste.
“Terselfdertyd veroorsaak die finansiële ondersteuning aan sukkelende staatsondernemings dat ander beleggings agterweë bly,” skryf Elina Ribakova, adjunk-hoofekonoom, en Ugras Ulku, hoof van navorsing oor opkomende markte in Europa.
Hulle meen die suksesvolle ontwerp en inwerkingstelling van hervorming gaan tyd neem.
“Om ooreenstemming te kry oor die herstrukturering van Eskom en die nasionale groeiplan sal deurslaggewende eerste stappe wees om die land se skuldvolhoubaarheid weer op dreef te kry.”
Die basislyn-scenario is dat die BBP teen ’n gemiddelde 1,5% op reële grondslag per jaar van 2019-’24 gaan groei. In só ’n situasie gaan die land se skuld in verhouding met BBP met 13 persentasiepunte van 57% in 2018 tot 70% in 2024 verhoog.
“Lae groei, hoë rentebetalings en ’n styging in die primêre begrotingstekort dra alles hiertoe by.”
Die derde, optimistiese scenario is gegrond op ’n aanname dat die ekonomie teen ’n gemiddelde 3,5% per jaar gaan groei. In só ’n situasie kan die verhouding van skuld tot BBP tot 50% daal.
Van die faktore wat bydra tot die scenario’s is die ondersteuning aan Eskom, wat die primêre begrotingstekort in die komende jaar gaan vergroot.
Indien die regering Eskom se skuld opneem wat gewaarborg is, gaan dit ook die staatskuld verhoog.
Hulle glo Suid-Afrika sal sy beleggingsgradering van Moody’s Investors Service behou, maar die vooruitsig vir die gradering gaan na negatief verander.
Moody’s het onlangs by ’n konferensie sy siening uitgespreek dat die land se skuld vorentoe gaan stabiliseer en dat die ekonomiese agteruitgang reeds in die huidige gradering weerspieël is.
“Die sleutel vir ’n verbetering in die situasie is die inwerkingstelling van ’n nasionale groeiplan en ’n bloudruk vir Eskom se herstrukturering.”
Volgens hulle sal beleggers en graderingsagentskappe die begrotingsaankondigings in Oktober en Februarie deeglik dophou.
“Die regering kan dalk sukkel om uitgawes te vind om te besnoei om te vergoed vir die hoër toewysing aan Eskom,” meen hulle.
Hulle glo die aanstelling van die ekonomiese adviesraad, wat konsekwente beleid moet ontwikkel om groei te bevorder, is ’n welkome stap.
Die lede van die presidensiële ekonomiese adviesraad is op 1 Oktober aangestel. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie