SA president glo baie bekommerd oor misdaad
SA president glo baie bekommerd oor misdaad

SA president glo baie bekommerd oor misdaad

Almal moet – geïnspireer deur Tutu se strewe na vrede – saamwerk om vrede na die strate van die land te bring.
Philda Essop - Pres. Cyril Ramaphosa is “baie bekommerd” oor die euwel van gewelddadige misdaad wat baie gemeenskappe landswyd raak.

Ramaphosa het Maandagaand die agtste jaarlikse ­internasionale Desmond Tutu-vredeslesing by die Kunstekaap-teater in Kaapstad gelewer.

Ramaphosa sê dié kwessie is een wat vereis dat gemeenskappe, godsdiens, politieke en maatskaplike ­organisasies sowel as die polisie saamwerk. Meer moet gedoen word om ekonomiese ruimtelike ontwerp te verander en om die land se morele kompas te herset.

“Ons verwelkom gemeenskappe wat uitpraat en die strate invaar wanneer dit nodig is om te verklaar dat hulle nie geterroriseer sal word deur misdadigers wat in ons strate rondswerf en mense blindelings skiet nie.”

Ramaphosa het ook gemeenskappe geprys wat optree teen maatskaplike probleme.



STREWE NA VREDE

Almal moet – geïnspireer deur Tutu se strewe na vrede – saamwerk om vrede na die strate van die land te bring. “Ons het maatskaplike en morele hernuwing nodig om die geweld van misdaad, die geweld van armoede en die geweld van moedeloosheid te beëindig.”

Stemme soos dié van Tutu is nodig om die land aan sy grondwetlike verpligtinge te herinner om 'n ­verenigde, nierassige en nieseksistiese same­lewing te bou.

Die president het voorgestel dat 'n leerstelsel van vrede ontwikkel moet word.

Miljoene in die land leef steeds in armoede en word maatskaplik uitgesluit en ekonomies gemarginaliseer.

“Daar kan nie van ware vrede gepraat word terwyl grondwetlike ­gewaarborgde regte, gehalte gesondheidsorg, gehalte onderwys, ­behuising en 'n skoon omgewing nie deur alle Suid-Afrikaners geniet word nie,” sê Ramaphosa.

“Ons kan nie van ware vrede praat wanneer 10% van die bevolking meer welvaart het as die oorblywende 90% nie, wanneer daar teen vroue in hul werkplekke gediskrimineer en hulle in hul huise mishandel word en wanneer ons bevoorregting en armoede en dieselfde kontoere as ons koloniale verlede volg nie.”

Ramaphosa het ook breedvoerig oor die grondkwessie gepraat.



APARTHEID

Apartheid het verseker dat dit swart, bruin en Indiër mense van hul grond en bates ontneem en families ­geslagte lank verarm en hulle van hul waardigheid ontneem. Die uitsetting van plaaswerkers, veral in die Wes-Kaap, gaan voort.

“As ons die waardigheid van ons mense wil herstel en die siklus van armoede wil verbreek, is dit belangrik dat ons aandag aan die ­grondkwessie gee.”

Sommige mense is onder die indruk dat die kwessie van grond vervaardig is deur politici en politieke partye.

“Nee, sy tyd het gekom,” sê Rama­phosa.

“Ons mense wil hê hul vryheid moet betekenis hê. . .

“Dit is in belang van maatskaplike geregtigheid en ekonomiese ontwikkeling dat ons verseker dat die grond gedeel word onder almal wat dit bewerk en dit benodig.”

 – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2026-05-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer