SA op hete kole oor Reserwebank, Moodyu2019s
SA op hete kole oor Reserwebank, Moodyu2019s

SA op hete kole oor Reserwebank, Moody’s

Moody’s het Suid-Afrika nog op twee kerwe bo rommelstatus.
Jo-Mare Duddy Booysen
Francois Williams - ’n Deurslaggewende week wag op Suid-Afrikaanse beleggers, finansiële markte en die breë ekonomie, en alle oë is die kredietgraderingsagentskap Moody’s Investors Service, wat sy besluit oor Suid-Afrika se kredietgradering Vrydag bekend gaan maak.

Dit word voorafgegaan deur belangrike maatskappyresultate wat bekend gemaak word, die inflasiekoers vir November wat Woensdag uitgereik word, en die Suid-Afrikaanse Reserwebank se siening oor rentekoerse wat Donderdag bekend gemaak word.

Ekonome verwag dat rentekoerse nog onveranderd gehou sal word, maar David Faulkner, ekonoom van HSBC Securites, verwag inflasierisiko’s sal in heroorweging geneem word. Van die matiger seine wat in die bank se September-vergadering uitgestuur is, kan omgekeer word.

Die Reserwebank se monetêrebeleidskomitee het sy repokoers in September onveranderd op 7% gehou en sy inflasievooruitskattings matig afwaarts aangepas. Faulkner meen in die lig van die uitslag van die Amerikaanse presidentsverkiesing kan die matiger aanslag te sag wees.

Faulkner sê Donald Trump se verkiesing tot president van die VSA gaan wesenlike implikasies vir die valutamarkte hê. Aangesien politiek nou beskou word as die oorheersende aandrywer van valutaskuiwe, en onsekerheid langer groot kan bly, dink HSBC se valutamarkstrateë dat die geldeenhede van opkomende markte soos Suid-Afrika daaronder kan ly.

Volgens Faulkner verwag HBSC dat die rand van die huidige sowat R14,50 teenoor die Amerikaanse dollar teen die einde van 2017 tot R16,50 teenoor die dollar kan verswak.

HSBC verwag steeds ’n verhoging van 25 basispunte (’n kwart-persentasiepunt) in rentekoerse in die eerste kwartaal van volgende jaar in reaksie op effe hoër inflasiekoers in 2017 en 2018 as wat vroeër verwag is, tesame met die risiko van ’n kredietafgradering, stygende arbeidskoste, en ’n verwagte aankondiging dat rentekoerse in Amerika in Desember sal styg.

Gina Schoeman, ekonoom van Citigroup, verwag ook nie dié week ’n rentekoersverhoging nie, maar ook geen verhoging in die hele 2017 nie.

Moody’s het Suid-Afrika nog op twee kerwe bo rommelstatus. Standard & Poor’s en Fitch het Suid-Afrika egter net een kerf bo rommelstatus. Dié twee maak hul besluit op 2 Desember, ’n week ná Moody’s, bekend.

Ontleders verskil

S&P het aspekte soos hervorming in die arbeidsmark, gesonder balansstate in staatsondernemings, tekens van groei in die ekonomie en politieke stabiliteit genoem as faktore waarna hy sal kyk om sy besluit in Desember te bepaal.

Nazmeera Moola, ekonoom van Investec Batebestuur, het Vrydag op ’n paneelbespreking gesê sy is optimisties dat die regering die laaste tyd aandag kon gee aan al dié aspekte en dat die kans dus goed is dat Suid-Afrika weer ’n afgradering kan vryspring, maar ’n besluit om voort te gaan met die nuwe kernkragbouprogram kan sake ontspoor.

Stephen Labson, ’n senior navorser aan die Universiteit van Johannesburg, het egter die naweek in ’n artikel op theconversation.com gewaarsku dat die geldsake van Eskom, Suid-Afrika se grootste staatsonderneming, dalk nie in so ’n goeie toestand is as wat gedink word nie.

Eskom se halfjaarresultate wys volgens Labson stygende koste en dalende wins. Dit blyk dat sowat R40 miljard se koste wat nog nie verhaal is nie straks nie voor 2018-’19 deur kragtariewe verhaal sal kan word nie.

Boonop is dit hoogs waarskynlik dat tariefverhogings in April 2018 deur regstappe vertraag sal word.

Die staatskas het ’n finansiële blootstelling van R368,5 miljard aan Eskom, wat op middeltermyn kan verdubbel, waarsku Labson. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer