SA jeugkoor bied gratis aanlyn konsert aan
SA jeugkoor bied gratis aanlyn konsert aan

SA jeugkoor bied gratis aanlyn konsert aan

Vermaak
Die Kaapstadse Jeugkoor (CTYC) gaan vir die eerste keer sedert Maart verlede jaar weer ’n regstreekse konsert hou – en hulle gaan dit boonop pasella aanbied.

Die koor, wat bestaan uit 24 lede van tussen 16 en 30 jaar oud, gaan “Celebrating Gratitude!” aanlyn op die platform Vimeo aanbied, en hulle nooi koorliefhebbers om op 22 Mei om 19:00 gratis daarvoor in te skakel.

Volgens Leon Starker, die koor se dirigent, sou die koor verlede jaar die prokureursfirma STBB se 120ste bestaansjaar met ’n reeks konserte vier. Die eerste konsert is op 5 Maart (2020) in die Groote Kerk in Kaapstad aangebied, voordat hul daaropvolgende konserte – onder meer een met ’n Amerikaanse koor – deur die Covid-19-pandemie gekortwiek is.

Nou, sê Starker per e-pos, gaan die koor bloot STBB se 121ste bestaansjaar met ’n gratis konsert vier; daarvoor is hulle baie dankbaar.

“2020 was rof – en terwyl ek tik, verander die speltoetser dit na rot. 2021 lyk ewe rof, indien nie rowwer nie, maar ons het 2020 oorleef en ons sal 2021 oorleef,” sê hy.

“Die waarheid is dat as ’n mens om jou kyk, kom jy agter dat daar baie redes is om dankbaar te wees – al was die afgelope jaar hoe rof vir jou; ek kan jou verseker dat daar miljoene mense was vir wie dit rowwer was en steeds is.

“Dit is altyd makliker om onvergenoegd te voel oor wat ’n mens nie het nie, maar ons wou deur die konsert onsself herinner dat dankbaarheid ’n baie stewige fondasie is om ’n betekenisvolle lewe op te bou.

“En, STBB is vanjaar 121 jaar oud, ons vier dit saam met hulle, én ons kan sing, en daarvoor is elke koorlid diep dankbaar!”

Hoewel hy sê die grendeltyd ook die koor finansieel hard getref het, was hulle in die verlede “geweldig geseënd” om danksy ondersteuners se steun aan die gang te bly. Aanlyn konserte is weens tegniese redes – kameras, klankopnames, beligting – duur, maar STBB het dié finansiële las vir hulle gedra sodat die koorlede hul liefde vir koorsang sonder enige bekommernisse met mekaar én met koorliefhebbers kan deel.

“Hierdie konsert maak ’n verskil vir ons,” sê Starker.

“Net om te kan kontak maak met die ander koorlede – ons oefen nou al ’n tydjie saam, met maskers aan! – en saam te kan musiek maak, was soos om elke week ’n slukkie sonskyn te kan drink.

“So dit was ’n maklike besluit om eerder die konsert gratis te maak om dit so toeganklik as moontlik vir enigeen te maak. Vir ons is die musiek kos, water en asem vir die innerlike, ons wil dit graag deel.”

Benewens tradisionele liedere is werke deur Chopin, Gjeilo, Kedrov, Runestad, asook verwerkings van liedjies deur Brenda Fassie, Cat Stevens, Coldplay, Don McLean en Koos du Plessis op die konsertprogram.

Die skakel na die konsert kan by www.ctyc.co.za/2021/05/17/celebrate-gratitude/ gevind word. Die konsert sal vir sowat ’n week ná 22 Mei om 19:00 steeds aanlyn beskikbaar wees.

Starker sê hy en die koor sal enige finansiële steun “geweldig waardeer”, veral omdat dit ’n “reuseverskil aan die koor se vermoë om voort te bestaan” sal maak. Belangstellendes kan op www.ctyc.co.za/donate/ uitvind hoe presies hulle die koor kan bystaan.
– Netwerk24



FOTO
Die Kaapstadse Jeugkoor. Hul dirigent, Leon Starker, kniel links voor. Foto Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2026-10-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer