SA handves vir myne: 30% bemagtig en klaar
SA handves vir myne: 30% bemagtig en klaar

SA handves vir myne: 30% bemagtig en klaar

Suid-Afrika se nuwe Mynbouhandves is onmiddellik van toepassing.
Elvira Wood - Mosebenzi Zwane, Suid-Afrika se minister van minerale bronne, sê die derde weergawe van die Mynbouhandves is 'n “revolusionêre instrument” om die sektor te herstruktureer.

Hy het dié weergawe gister in Pretoria bekend gestel.

Hiervolgens moet mynmaatskappye 'n swart ekonomiese belang (SEB) van 30% hê.

“'n Maatskappy wat reeds 26%-belang het, sal dit handhaaf en hoef net 4% by te voeg. Dié wat nie daaraan voldoen nie, moet tot 30% bemagtig,” sê Zwane.

Die Mynbouhandves is onmiddellik van toepassing.

Rolspelers soos die Kamer van Mynwese en die vakbond Solidariteit het vandeesweek geweier om op kort kennisgewing oor dié omstrede handves met die departement te vergader.

Die kamer en Solidariteit het in hul afwesigheid geskitter by die aankondiging in Pretoria, waarvoor Zwane laat opgedaag het.

Roger Baxter, uitvoerende hoof van die kamer, het telkemale voor die bekendmaking van die finale weergawe van die handves gesê hulle sal nie skroom om hulle op die howe te beroep as hulle nie daarmee saamstem nie.



Konsulteer

“Ons het alles gedoen wat ons kon,” het Zwane gesê.

“Ons het gesprekke met meer as 60 belanghebbendes gevoer en is tevrede dat ons alle insette gekry het wat ons nodig gehad het om die handves af te handel,” het hy gister gesê.

“As jy met mense gekonsulteer het en geluister het na wat hulle sê, kan 'n mens aanvaar dat 'n enkele ­belanghebbende nie daarop sal aandring dat aan al sý vereistes voldoen moet word nie,” was sy antwoord op die vraag wat sy siening is oor die Kamer van Mynwese se standpunt dat hy hom op die howe sal beroep as hy nie met die finale weergawe saamstem nie.

Hy het vlugtig na die kamer verwys as een van die belanghebbendes met wie hy gekonsulteer het.

Baxter het 'n week gelede op die Junior Mynbou-indaba in Auckland Park, Johannesburg, gesê hulle het baie beperkte gesprekke met die departement oor die handves gehad.



Private sektor

Die kamer – wat Suid-Afrika se grootste mynboumaatskappye verteenwoordig – het Woensdag in 'n verklaring gesê Zwane se uitnodiging na 'n vergadering van die taakspan oor mynbou-ontwikkeling en -indiens­neming (met die Engelse akroniem Midgett) is “hoogs verdag”.

Zwane se kommentaar was dat dit nie 'n vergadering was om goedkeuring van belanghebbendes te kry nie, maar om die handves aan hulle voor te lê voordat hulle daaroor in die media moet lees.

“Ek het spesifiek net die media na hierdie geleentheid genooi,” het Zwane gesê.

Die kamer stem nie met die minister se stellings saam nie.

“Vergaderings met individuele belanghebbendes nou en dan oor 'n lang tydperk is geen plaasvervanger vir 'n behoorlike proses sodat alle belanghebbendes op dieselfde bladsy is nie, en in besonder die mynboubedryf, wie se verantwoordelik dit is om die handves se bepalings in werking te stel,” sê Baxter.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer