SA banke verwelkom 'etiese' Nene by tesourie
Die terugkeer van twee voormalige ministers van finansies na pres. Cyril Ramaphosa van Suid-Afrika se kabinet, is wyd verwelkom.
Suid-Afrika se bankbedryf het gisteroggend pres. Cyril Ramaphosa se nuwe kabinet verwelkom, maar is bekommerd dat “gekompromitteerde individue behou is wat steeds onder die wolk van staatskaping en wanadministrasie is”.
Cas Coovadia, besturende direkteur van die Bankvereniging van Suid-Afrika, sê die kabinetskommeling is 'n belangrike stap in Ramaphosa se pogings om beleggersvertroue te herstel. Hy verwelkom veral die terugkeer van Nhlanhla Nene as minister van finansies.
“Etiese leierskap by die nasionale tesourie is die belangrikste anker van ons planne om die ekonomie te laat groei en 'n omgewing te skep wat geloofwaardig groei bevorder, werk te skep en Suid-Afrikaners uit armoede op te hef. Die tesourie moet toevertrou word aan 'n leier wat onaangetas is deur die vernietiging van korrupsie en staatskaping.”
Coovadia sê die banksektor sal die nuwe kabinet fyn dophou en verantwoordbaar hou vir “prestasie, dienslewering en etiese leierskap”.
Dié reaksie is soortgelyk aan dié van ander instansies, soos Business Leadership South Africa (BLSA), wat die nuwe kabinet verwelkom het as 'n stap in die regte rigting om vertroue te bevorder, groei te herstel en werk te skep, sê Bonang Mohale, uitvoerende hoof van BLSA.
BLSA het Nene en Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, se aanstellings verwelkom.
Mohale sê Nene het 'n “bekende gesig” en 'n “stabiele hand” wat beleggers vertroue in die ekonomie sal gee.
Hy sê Gordhan sal “die staat se greep” versterk om staatskaping en korrupsie uit te wis.
HARDE WERK Lê VOOR
Dit gaan harde werk verg om die land se ekonomie te stabiliseer, het Nene Maandagaand gesê nadat pres. Cyril Ramaphosa aangekondig het dat Nene heraangestel is as die minister van finansies.
Hy is egter vol vertroue dat dit gedoen kan word, sê Nene.
Nene neem die portefeulje by Malusi Gigaba oor, wat terugkeer as die minister van binnelandse sake.
Die minister van finansies het 'n reusetaak en sal moet weet wat hy doen, het Nene aan Fin24 gesê.
“Ek was baie gemaklik waar ek was.”
Hy het baie die afgelope twee jaar in die private sektor geleer.
Nene was 18 maande die minister van finansies tussen Mei 2014 en Desember 2015 toe hy skielik die trekpas kry en Des van Rooyen in sy plek aangestel is.
Die politieke ontleder Daniel Silk sê Nene is deel van 'n skommeling wat “markvriendelik” is.
OPENBARE ONDERNEMINGS
Hef aan lê nou vir Pravin Gordhan voor, wat oorneem as minister van openbare ondernemings.
Gordhan, 'n voormalige minister van finansies wat nou in beheer is van onder meer Eskom, Transnet, die Suid-Afrikaanse Lugdiens, die Poskantoor en Passasierspooragentskap van Suid-Afrika, erf ondernemings wat 'n enorme las is op die staatskas en boonop die onderwerp is van verskeie ondersoeke na bedrog, korrupsie of swak bestuur.
Solidariteit het Gordhan Maandag gelukgewens met sy aanstelling.
Die vakbond het egter ook aan Gordhan die versoek gerig om so gou as moontlik ondersoek in te stel na die omvang van die ernstige finansiële wanbestuur wat onder die oorsig van Brown by die staatsbeheerde wapenmaatskappy Denel geheers het.
– Netwerk24/Fin24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie