Só vorder Standard Bank met sluit van SA-takke
Elvira Wood
Standard Bank het teen einde Augustus reeds 89 van sy takke in Suid-Afrika gesluit en 81 mense is uit diens gestel.
'n Verdere 920 mense het vrywillige skeidingspakkette aanvaar. Dit beteken dus dat 1 001 mense die bank se diens dié jaar verlaat het weens dié verwikkeling.
Dit vorm deel van 'n totaal van 104 takke waarvan die bank die afgelope jaar die deure gesluit het.
Standard Bank het in Maart bevestig dat hy “besig is om sy kleinhandel- en sakebankmodel weens die veranderende behoeftes van kliënte te hersien te midde van vinnige aanvaarding van digitale bankprodukte en -dienste.
“Die verandering in kliënte se gedrag beteken dat ons kliënte ons takke minder gebruik. As sodanig het ons ons kleinhandel- en sakebankmodel hersien sodat dit op die behoeftes van ons kliënte gerig is,” het 'n woordvoerder van die bank aan Netwerk24 gesê.
Die bank het toe gewaarsku dat tot soveel as 1 200 van sy werknemers moontlik deur dié sluitings beïnvloed kon word.
Eugene Ebersohn, assistentsekretaris-generaal van die bankwerkersvakbond Sasbo, sê in 'n e-pos aan Netwerk24 dat daar in der waarheid 1 735 werkers is wat beïnvloed word.
Dit is omdat van die personeel wat wel gewaarborg is dat hulle hul poste sou behou, se poste drasties verander het.
Ons wil kyk hoe die plan in die toekoms gebruik kan word om mense wat veral deur die vierde nywerheidsrevolusie beïnvloed word, oor op te lei om sodoende 'n tweede loopbaan te kan begin.
Om te keer dat personeel hulself skielik in poste bevind waar hulle nie wou wees nie, is almal wat deur die taksluitings beïnvloed word, volgens Ebersohn die keuse gebied om vrywillige skeidingspakkette te aanvaar.
“Aangesien personeel in die takke die geleentheid gehad het om die bank te verlaat en in die proses vakatures te skep vir personeel wie se takke gesluit het, was ons hoop dat gedwonge afleggings tot die minimum beperk sou word omdat individuele keuses 'n rol gespeel het,” verduidelik hy.
Die gevolg hiervan was dat 920 personeel gekies het om die vrywillige skeidingspakkette te aanvaar.
“ 'n Aantal nuwe poste is ook in die bank se twee inbelsentrums geskep waar 73 personeel in Gauteng werk gekry het,” sê Ebersohn.
Ebersohn sê die vakbond kon ook vir Standard Bank oortuig om R40 000 per personeellid beskikbaar te stel vir opleiding.
Personeel kon dié geld vir enige opleiding gebruik en nie noodwendig vir vaardighede wat deur die bank vereis word nie.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie