Só skrum Stormers teen Covid-19
Rugby
Stephen Nell – ’n Lang pad terug oefenveld toe wag op die twee spelers van die Westelike Provinsie Rugbyunie wat positief vir Covid-19 getoets is.
Albei – een ’n o.21-speler en die ander ’n speler op die buitewyke van die Stormers se groep – is Donderdag wéér getoets.
“Hulle was vir 14 dae in selfisolasie en ons was daagliks in kontak om seker te maak dat hulle nie simptome ontwikkel het nie, en om te hoor hoe dit gaan,” sê Jason Suter, die Stormers se spandokter.
“Volgens die regering se regulasies hoef hulle nie weer getoets te word alvorens hulle by ons aansluit nie, maar ons sal seker maak dat hulle negatief toets voordat hulle dit doen.
“Daarna sal ek ’n kardiovaskulêre ondersoek doen. Hulle sal bloedtoetse ondergaan om seker te maak dat daar nie onderliggende ontsteking in hul hartspiere is nie.
“As hulle daardie toets slaag, is daar oor ’n tydperk van sewe dae ’n proses om hulle terug op die veld te kan kry.”
Suter is pragmaties oor die pad vorentoe en verwag nóg positiewe toetse in die weke en maande wat voorlê.
“Die grootste risiko lê buite ons omgewing. Ons verwag dat die spelers aan kontak (met die virus) blootgestel gaan word en dat dit in die toekoms op positiewe toetse gaan uitloop,” sê hy.
By die WP se Sentrum vir Uitnemendheid in Bellville is die maatreëls só streng dat spelers nie eens vanuit teenoorgestelde rigtings verby mekaar mag stap nie.
“Ons het die sentrum ingerig sodat daar as’t ware eenrigtingverkeer is. Die lugversorging en die skoonmaak is ook verbeter. Tot dusver was dit ’n yslike taak.”
Spelers moet daagliks seker maak dat hulle nie simptome het voordat hulle die huis verlaat om by die oefengeriewe aan te meld nie. Dáár word hulle slegs toegelaat nadat hul koors geneem is en as hulle nie simptome toon nie.
Dan is dit die reiniging van hande, terwyl maskers slegs verwyder word wanneer daar oefeninge teen ’n hoë intensiteit is en die spelers op die veld in lyne hardloop.
“Ons het die spelers en afrigters in twee spanne ingedeel. Daardie spanne maak nie met mekaar kontak nie. Binne die spanne self is spelers in groepe van vyf ingedeel. Daardie groepe werk in isolasie,” sê Suter.
Die uiteenlopende persoonlikhede onder die spelers en afrigters bied ’n verdere uitdaging – sommige is bekommerd oor Covid-19 en ander glo hulle is koeëlvas.
“Ons het introverte en ekstroverte met mense wat wíl of nie wil sosialiseer nie. Elkeen van hulle het verskillende stresvlakke,” sê Suter.
“Ons poog om dié wat baie bekommerd is dat hulle of ’n familielid Covid-19 kan opdoen, akkommodeer deur hul interaksie soveel as moontlik te beperk. Hulle is in die minderheid.
“Maar ons moet die regering se regulasies volg en dis baie eenvoudig. Wat ons aan hulle probeer verduidelik, is dat jou gedrag buite jou werksomgewing ewe belangrik is as daarbinne.”
Spelers moet egter ook daarmee vrede maak dat hulle ongeag die risiko verbind tot hul dagtaak moet wees.
“As jy die regering se riglyne volg en sinvol optree, bly jou werk jou werk, en kan jy dalk steeds aan Covid-19 blootgestel word.
“Dis soos om noodsaaklike kruideniersware te gaan koop. Jy kan dalk blootgestel word, maar dis iets wat jy móét doen.”
Dié wat die kameraadskap van hul spanmaats baie mis, se geesdrif word in toom gehou.
“Ons probeer dit temper en verduidelik aan hulle wat aanvaarbare gedrag is en wat nie. Dit gaan daaroor om die mense om hulle te beskerm,” sê Suter. – Netwerk24
FOTO
Jason Suter, die Stormers se spandokter. Foto Gallo Images

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie