• Tuisblad
  • Sake
  • Só sê SA tribunaal oor Edcon se klubledegeld
Su00f3 su00ea SA tribunaal oor Edcon se klubledegeld
Su00f3 su00ea SA tribunaal oor Edcon se klubledegeld

Só sê SA tribunaal oor Edcon se klubledegeld

Edcon se argument dat die klubledegeld nie deel van die kredietooreenkoms is nie, dat dit afsonderlik is en dat betaal word vir goedere wat aangekoop word, dra nie water nie.
Nellie Brand-Jonker - Die Nasionale Kredietwet laat geen uitsonderings toe vir kredietverskaffers om bykomende koste op kredietooreenkomste te hef nie, omdat dit bloot verbruikers sou mislei.

Dit is deel van die bevindinge van die Verbruikerstribunaal oor ’n saak waarin hy moes bepaal of die klubledegeld wat die winkelgroep Edcon op klante se rekeninge hef, ’n kredietkoste is.

Die Nasionale Kredietreguleerder (NKR) het die aansoek by die Verbruikerstribunaal gebring.

Dit het gevolg ná ’n ondersoek wat gespruit het uit die NKR se ondersoek van meubelwinkelgroepe waar ’n redelike vermoede bestaan het dat klubledegelde gehef is as deel van kredietooreenkomste.

Die Verbruikerstribunaal sê die hoofargument van die NKR het gehandel oor of dit as ’n koste van krediet beskou kan word of nie.

Die NKR het aangevoer dit is deel van die koste van krediet en word nie deur die wet toegelaat nie.

Debat

Edcon het aangevoer die klubledegeld is ’n maandelikse betaling vir goedere en dienste wat niks met die kredietooreenkoms te doen het nie.

Die tribunaal se siening is dat die debat nie daaroor gaan oor of dit ’n koste van krediet verteenwordig soos deur die wet omskryf nie.

“Die debat is wyer. Die vraag is eerder of die wet ’n kredietooreenkoms toelaat wat ’n koste bevat anders as wat die wet toelaat.”

Die inligting wat voorgelê is aan die tribunaal, het getoon die enigste verwysing na die klublidmaatskap is in die aansoek om krediet wat die verbruiker die opsie gee om ’n boksie te merk.

“Die klublidmaatskap is dus nie apart gekoop of as ’n aparte transaksie nie, dit is ’n integrale deel van die aansoekproses vir die kredietooreenkoms,” lui die uitspraak.

Die tribunaal sê hieroor is die Nasionale Kredietwet baie duidelik.

“Die wet doen groot moeite om die koste te beskryf wat deel uitmaak van die kredietooreenkoms en wat toegelaat word.

“Die oogmerk van die wet is duidelik. Dis om te verseker die verbruiker word nie op enige wyse mislei nie en sodat die verbruiker presies weet watter koste met ’n kredietooreenkoms verband hou.”

Artikel 101

Die spesifieke koste word in artikel 101 van die wet beskryf.

“Geen gedeelte van die wet maak vir klubledegelde of iets soortgelyks voorsiening nie.

“Enige koste wat op ’n kredietooreenkoms aangedui word en wat nie ’n koste is wat in die wet beskryf word nie, kan dus nie toegelaat word nie.”

Die Verbruikerstribunaal het in sy bevindinge gesê dit is irrelevant of dit as ’n maak-’n-regmerkie-opsie verskaf word, gekanselleer kan word of opsioneel is, of ’n klousule bevat wat spesifiek sê die Klub vorm nie deel van die kredietooreenkoms nie.

“Die wet laat nie enige uitsondering – oor die soort koste wat gehef kan – word toe nie.

“Dit maak nie voorsiening vir enige manier waarop ’n kredietverskaffer ’n bykomende koste kan hef tot ’n ooreenkoms nie, selfs nie solank stappe gedoen is om seker te maak die verbruiker word nie mislei nie, of ’n opsie gegee word om dit te weier nie.

“As die wetgewing se oogmerk was om sulke uitsonderings toe te laat, sou dit duidelik daarvoor voorsiening gemaak het.

“Die rede vir ’n gebrek aan so ’n uitsondering is duidelik, dit sal dit in wese onmoontlik maak om beheer uit te oefen oor die manier waarop opsionele koste aan verbruikers verduidelik of verkoop word. Die potensiaal om verbruikers te mislei, gaan dus wesenlik wees.”

Die tribunaal sê Edcon se argument dat die klubledegeld nie deel van die kredietooreenkoms is nie, dat dit afsonderlik is en dat betaal word vir goedere wat aangekoop word, dra ook nie water nie.

“Die normale manier hoe aankope op ’n winkelkaart gedoen word, is dat dit ’n heel aparte transaksie is.

“Die klubledegelde word nie op dieselfde manier hanteer nie. Dit word as ’n opsie in die kredietaansoek getoon. Dit is dus nie ’n aparte aankoop nie.”

Verbode gedrag

Daarom het die tribunaal bevind dat Edcon die wet oortree het deur die klubledegeld by te voeg tot die kredietooreenkoms en die kredietgeriefproses en dat die maatskappy ’n koste bygevoeg het tot die ooreenkoms wat nie deur die wet toegelaat word nie.

Die tribunaal het bevind Edcon het herhaaldelik dié verbode gedrag getoon.

Geen kostebevel is toegestaan nie. Die uitspraak het met die verdienste van die saak verband gehou en ’n strafbepaling sal later gemaak word.

Die NKR het in sy aanvanklike aansoek gevra vir ’n boete wat tot 10% van Edcon se omset kan beloop.

Die NKR het ook gevra vir ’n bevel dat die klubledegeld wat vanaf 2007 gehef is, aan verbruikers terugbetaal moet word.

In die uitspraak is gesê klubledegeld is einde Desember 2015 op 1,49 miljoen klante se rekeninge gehef.

Netwerk24 het reeds bepaal dat die inkomste uit klubledegeld vir Edcon sedert die Nasionale Kredietwet in werking getree het tot nou, byna R5 miljard beloop. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-06-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer