Só lyk Samsung se opvoubare foon

Samsung se plan vir ’n slimfoon wat kan vou soos ’n beursie, het uiteindelik aan die lig gekom ná maande van bespiegeling.

Die Suid-Koreaanse maatskappy is vroeër vandeesmaand in Amerika verskeie patente toegestaan vir ’n grensverskuiwende slimfoon wat op homself kan toevou, berig Business Insider.

Volgens sketse wat die patente vergesel, gaan die Samsung Galaxy X se skerm nie net middeldeur kan vou nie, maar as’t ware in drie dele. Dit beteken die een deel van die foon gaan soos ’n beursie bo-oor die ander vou ten einde gemaklik en kompak in die gebruiker se sak te pas.

Tech Radar berig Samsung beplan om die foon reeds op die 2019 Mobile World Congress in Februarie in Barcelona bekend te stel, hoewel dit nog nie deur Samsung bevestig is nie.

Volgens die patent gaan die Galaxy X bestaan uit drie OLED-skerms van 3.5 duim elk wat kan uitvou om ’n massiewe slimfoon, byna die grootte van ’n tablet, te vorm. Elke skerm kan afsonderlik funksioneer, wat beteken dat een skerm bo-oor die ander gevou kan word en as staander kan dien terwyl jy ’n video op die derde skerm kyk.

Dit is nog nie bekend waar die foon se battery, kamera, mikrofoon of luidspreker gaan wees om toe te laat dat die skerm so gevou kan word nie.

Volgens die Suid-Koreaanse koerant The Bell gaan ’n prototipe van die skerm teen November gereed wees, hoewel Samsung nie beplan om aanvanklik ’n groot aantal daarvan te vervaardig nie.

Dis glo weens die feit dat die Galaxy X betreklik duur gaan wees om te vervaardig en die maatskappy eers wil sien hoe die mark op die nuwe tegnologie reageer.

Terselfdertyd beplan Samsung nog twee nuwe slimfone. Die Galaxy Note 9 word na verwagting reeds later vanjaar uitgereik. Dié foon se kamera en battery gaan glo ’n merkbare verbetering wees op die Galaxy S9 en S9+ wat in Februarie bekend gestel is.

Volgens Forbes gaan die Note 9 die eerste foon wees met ’n vingerafdrukskandeerder wat in die skerm ingebou is.

Daarbenewens werk Samsung ook reeds aan die Galaxy S10.

Baie van dieselfde funksies van die Note 9 gaan glo daarin vervat word, met bykomende 3D-funksionaliteit. Daar word verwag dat die Galaxy S10 teen Januarie bekend gestel gaan word.

ZTE Axon M

Intussen kan belangstellendes solank gaan loer na ZTE se Axon M, die wêreld se eerste slimfoon met twee skerms, wat in November bekend gestel is. Hoewel dié foon se skerm nie kan buig soos die Galaxy X s’n nie, kan jy dit oopvou om een groot skerm te vorm. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-12-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer