Só lyk 90 jaar se toewyding

Wat eens as plaasskooltjie sonder elektrisiteit begin het, is vandag ’n onderwysinstelling wat vir geen stadskool hoef terug te staan nie.
Maria Eiseb
Maria Eiseb - In 1928 het ene Nicolas Witbooi van die plaas Eselmaanhaar, sowat 145 km buite Windhoek op die Dordabis-pad, se hart vir die omgewing se dorps- en plaaskinders hom genoop om ’n skool te bou.

Volgens die destydse Laerskool Eselmaanhaar se geskiedenis het Nicolas en sy pa, Jan Witbooi, grond geskenk om dié groot opvoedingstaak aan te pak.

Later sou Sidney Witbooi, Nicolas se seun, ook ’n bydrae tot die uitbreiding van die skool lewer deur nóg grond te skenk.

Toestemming moes by die destydse Rehoboth-regering gekry word om die skool te bou, en vandag, 90 jaar later, kan leerlinge van dié omgewing en ook ander landstreke trots by die Nicolas Witbooi Gedenkskool ingeskryf word.

Dié naam het die skool in 1989 gekry.

Twee onderwysers, nie eers 15 leerlinge

Destyds was daar slegs twee manlike onderwysers by die skool.

Anna Christians (81), Nicolas se dogter, was later die skool se eerste juffrou.

Aanvanklik was daar minder as 15 leerlinge, maar vandag spog die skool met 10 onderwysers en sowat 224 leerlinge.

In die beginjare moes Nicolas self by die dorpsbewoners se huise en omliggende plase omgaan om kinders vir hul daaglikse somme en rympies op te laai.

Die skoolgebou is destyds ook ingespan vir kerkdienste, nagmaalbedienings, dope en die aanneming van kerklidmate.

Menige paartjie is ook hier in die huwelik bevestig, en roudienste, konserte en opvoerings is in die skoolsaal gehou.

Viering

Twee oudleerlinge, Katrina Gille en Poppie Williams, en Anna, hul graad 1-juffrou in 1958, was onlangs deel van die skool se viering van hul 90ste bestaansjaar.

Katrina was in graad 1 aan die Laerskool Eselmaanhaar, maar het haar hoërskoolloopbaan by Hoërskool Dr. Lemmer tot in graad 10 voortgesit.

Daarna het sy haar tersiêre onderrig in onderwys in Suid-Afrika aan die Hoogenhout-kollege in die Paarl ontvang.

Nadat sy haar studies voltooi het, wou Katrina in die gemeenskap belê waar sy vandaan kom, waar die grondslag vir haar opvoeding gelê is, en by Laerskool Eselmaanhaar begin skoolgee, vertel sy.

Sy het leerlinge tydens die feesviering aangemoedig om hard te leer studeer sodat hulle eendag ’n sinvolle en betekenisvolle bestaan kan maak.

“Dink diep, laat niks julle beperk nie, reik na die sterre,” het sy gesê.

‘Mooi erfenis’

Poppie het by die geleentheid gesê sy was ’n inwoner van Kalkpan, ’n buurplaas van Eselmaanhaar, en het haar skoolloopbaan 60 jaar gelede aan Laerskool Eselmaanhaar begin.

“Die meetsnoere het sowaar vir ons op lieflike plekke geval en . . . ons erfenis is vir ons mooi gemaak.”

Volgens Poppie het leerlinge van buurplase destyds in klein huisies onder liefdevolle gesinne se toesig op Eselmaanhaar gebly.

Maaltye het meestal uit mieliepap bestaan - drie keer ’n dag, onthou sy.

“Ons het hout gaan haal en ook water gaan skep as deel van ons daaglikse take. Saans het hulle rondom die vuur gelees, of selfs by ’n tuisgemaakte kers of ‘vetlampie’. Ons het nie eers van elektrisiteit gedroom nie,” het Poppie vertel.

Sy het gesê sy is verheug om die skoolgebou ná 90 jaar in so ’n goeie toestand aan te tref.

“Dit is ’n teken van toewyding en jul harde werk.”

Poppie het die leerlinge gevra om bo hul omstandighede uit te styg en om nie van hul skoolvriende te vergeet wanneer hulle eendag iewers in die lewe gekom het nie.

Eerste juffrou

Vir Anna was dit ’n emosionele oomblik om haar ou skool ná 90 jaar weer te kon besoek.

Sy’t gesê die Christians is dankbaar vir hul voorgeslagte en hul oupa Jan Witbooi wat ook destyds grond vir die bou van die skool beskikbaar gestel het.

Anna het al die rolspelers bedank wat met die bou van die skool gehelp het.

“Ons is ook dankbaar vir ons pa, Nicolas, vir sy bydrae tot die voortbestaan van die skool. Dankie ook aan ons broer, Sydney, wat later nog grond vir die uitbreiding van die skoolgronde geskenk het,” het sy gesê.

Anna het gesê sy is dankbaar dat die skool nog bestaan en vir haar tere, kosbare herinneringe van toeka.

“Ek onthou hoe ek destyds as flukse onderwysertjie hier rondgespring het,” het sy vertel.

“Ek was bewoë om my oudleerlinge te sien. Hulle het gaan studeer en ook teruggeploeg in die plek waar hulle hul opvoeding ontvang het,” het Anna gesê.

“Ek is baie dankbaar om deel van hierdie herdenking te wees”

Sy het die regering, Ingenesia Katjinaani, die huidige skoolhoof, die personeel, koshuispersoneel , ouers en leerlinge bedank vir die feit dat die skool ná 90 jaar steeds bestaan.

Bedankings

“Baie van ons het hier as graad eentjies begin, soos ek en my broers en susters, en baie het verder gaan leer en ’n sukses van hul loopbane gemaak,” het sy vertel.

Haar pa het nie van die idee gehou dat Anna op Rehoboth moes skoolhou nie, en het haar na Laerskool Eselmaanhaar gebring waar sy aansoek gedoen het om as onderwyser by die skool aangestel te word.

Vir Igenesia was Anna, ofte wel “Ouma Christians” se teenwoordigheid by die viering hartroerend.

Die familie het elke skoolhoof bedank wat die septer hier geswaai het en orde gehandhaaf het.

Ook elke onderwyser wat by die skool “gedien, geploeg, gesaai en geoes” het, is bedank.

“Dankie ook aan elke ouer wat ’n kind hierheen gebring het vir sy of haar opvoeding. Dankie aan die regering en elke instansie wat met die skool se voortbestaan gemoeid is en ná onafhanklikwording voortgegaan het om te sorg dat die skool en die koshuis bestaan, ” het sy gesê.

“Ons is ook dankbaar vir die skoolhoof, die personeel en die koshuispersoneel vir die opvoedingstaak en werk wat julle hulle hier verrig.”

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer