Su00f3 knap jy daai 4x4 op
Su00f3 knap jy daai 4x4 op

Só knap jy daai 4x4 op

Jaco Kirsten



Raait, jy't pas 'n nuwe 4x4 gekoop of jy het 'n paar los rande en wil jou 4x4 verbeter.

Waar begin jy? By 'n snorkel? 'n Rolstaaf? 'n Lekker scoop op jou Ranger se bonnet? Blou Bul-testikels agter jou Hilux? Nee, hier is die lys van die belangrikste veranderinge:

Bande: Jou ryding se bande waarmee vervaardigers dit toerus, is ontwerp om min padgeraas te maak, minder brandstof te verbruik (weens laer rolweerstand), goed op teerpad te hanteer – en omdat dit waarskynlik op grootmaat die goedkoopste was. Veldryvermoë staan heel agter in die ry.

Wat jy dus wil hê, is veel­terreinbande. Met ander woorde, bande wat dalk 'n bietjie teerpadhantering gaan inboet, maar nie in flarde geskeur gaan word die oomblik dat jy klippe groter as malvalekkers teëkom nie.

Onthou ook veelterreinbande (all-terrains in goeie Afrikaans) verskil van mekaar. Sommige is 50/50-pad/veld, terwyl ander weer baie meer veldgeoriënteerd is. Jou besluit moet deur jou behoeftes bepaal word, nie deur hoe die bande lyk nie.

Vering: Die vervaardigers ontwerp vering om 'n verskeidenheid funksies te kan vervul. Die voertuig moet goed op teer hanteer, 'n bietjie vrag kan dra, gemaklik op sinkplaatpaaie hanteer . . . alles wedersyds uitsluitende eienskappe.

Met ander woorde, die vering is 'n kompromie wat verrigting betref. En dis redelik goedkoop komponente wat gekies word om dieselfde ­rede as die standaardbande – prys.

Toegewyde veldryvering gee jou nie net die kans om keuses te maak in vrag­dravermoë nie, maar is ook sterker gebou en kan baie harder werk sonder om verrigting in te boet.

Staal buffers: Nee, dis nie om minibustaxi's uit die pad te vee nie. Die eerste rede is om jou voertuig te beskerm. As jy iewers in noordelike Namibië 'n donkie sou tref, sal jou verkoeler nie in sy peetjie wees en die einde van jou reis beteken nie.

Tweedens is staalbuffers herwinningspunte waaraan jy veilig kinetiese toue kan koppel – met die regte boogskakels. Kinetiese herwinnings vereis baie stewige herwinningspunte aan jou voertuig omdat baie hoë kragte uitgeoefen word wanneer 'n ryding op dié manier herwin word. Indien jy gehaltestaalbuffers voor en agter het – en hulle met gehalteboute gemonteer is – sal 'n veilige kinetiese herwinning van jou voertuig gedoen kan word.

Dieselfde geld hoogligdomkragte, wat spesiale hegpunte nodig het om 'n voertuig op te lig. Die meeste staalbuffers beskik oor so iets sodat 'n voertuig veilig opgelig kan word om 'n wiel om te ruil of dit uit 'n gat te kry.

Langafstandbrandstoftenk: As jou ryding die regte bande, vering en staalbuffers het, kan jy vir jou 'n langafstandtenk laat inbou sodat jy maklik

1 000 km of meer kan aflê. Want nie net is brandstofpompe skaars in Afrika nie, maar wanneer jy wel een teëkom, is daar altyd 'n kans dat dit leeg kan wees.

O ja, moet nóóit verby 'n brandstofpomp ry sonder om vol te maak nie.

Hierna kan jy begin kyk na 'n aluminiumkappie, laaistelsels, 'n kampeeryskas en 'n dubbelbatterystelsel, want jou ryding kan nou met veiligheid die meeste plekke besoek. 

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2026-10-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer