Su00ea jou su00ea oor selfoontorings
Su00ea jou su00ea oor selfoontorings

Sê jou sê oor selfoontorings

Openbare deelname oor die beplande 524 selfoontorings in al 14 streke van die land vind vandeesmaand plaas.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg



MTC Namibia wil hul selfoonnetwerk landswyd uitbrei met die doel om die Namibiese bevolking van 100% selfoonopvangs te voorsien en die publiek kan hul sê nou hieroor sê.

Die beplande projek sal sowat N$1,1 miljard kos.

Dit behels dat 524 nuwe selfoontorings in al 14 streke oor 'n tydperk van twee jaar opgerig gaan word, maar 'n strategiese omgewingsimpakstudie moet volgens die omgewingsbestuurwet gedoen word.

Dit sal deur GCS Water Environmental Engineering (GCS Namibia) uitgevoer word en hulle sal ook die openbare deelname hanteer.

“Konsultasie met belanghebbendes sal deur al die fases van die projek plaasvind om 'n gefokusde en effektiewe openbare konsultasieproses te verseker,” lui 'n inligtingsdokument van GCS Namibia.

“Konsultasie sal die grondslag van die hele strategiese omgewingsimpakstudie vorm om te verseker alle Namibiërs is ingelig en het die geleentheid om aan die proses deel te neem.”

Konsultasie met belanghebbendes sluit in plaaslike- en streeksowerhede en alle semistaatsorganisasies. Openbare deelname vind in Augustus in al die hoofstede of groot dorpe van alle streke plaas.

“Openbare betrokkenheid is 'n noodsaaklike deel van die proses en belangstellende en geraakte partye sluit enige persoon of organisasie in wat direk of indirek betrokke is by die projek of deur die projek geraak word,” lui die dokument.



KONSTRUKSIE OOR TWEE JAAR

Volgens die dokument is daar nie 'n spesifieke volgorde waarin die torings opgerig gaan word nie.

Die doelwit is om in Oktober met konstruksie te begin en dan stelselmatig deur al die terreine te werk om die projek teen Oktober 2019 te voltooi.

“Weens die verhoogde aanvraag na mobiele stem- en datadienste in Namibië neem die druk toe om voortdurend die voetspoor van mobiele kommunikasie uit te brei,” meen MTC.

“Deur hierdie projek van stapel te stuur, sal MTC hul nasionale voetspoor vergroot. Dit sal veral die afgeleë en landelike gebiede baat.

“MTC sal nuwe 2G-, 3G- en 4G-netwerke implementeer, en bestaande netwerke met 3G- en 4G-tegnologie opgradeer. Hierdeur sal die voorgestelde projek verseker die gehalte van diens aan mobiele gebruikers in alle streke van Namibië verbeter.”

Die hoogte van die torings sal tussen 10 m, 15 m, 25 m, 48 m, 80 m of 120 m wissel, afhangende van die terrein. Volgens die dokument is vyf mense tydens die konstruksiefase nodig, asook tydens die operasionele- en instandhoudingsfases.

Elektrisiteit sal vir elke terrein benodig word. As elektrisiteit nie deur 'n skakel met NamPower verkry kan word nie, sal sonkrag gebruik word. As daar nie paaie is na elke terrein nie, sal paaie geskep moet word.



KWESSIES

Tipiese kwessies rondom die oprigting van die torings is die impak op voëls, gesondheid weens elektromagnetiese bestraling, argeologies sensitiewe omgewings, ekologies sensitiewe omgewings, burgerlike lugvaart, asook die visuele impak op die betrokke terreine.

'n Span kundiges sal insette tydens al die fases van die strategiese omgewingsimpakstudie lewer. Die span bestaan uit Mike en Ann Scott (oor voëls), die Nasionale Bestralingsbeskermingsowerheid (oor die gesondheidsrisiko), Alexandra Konstantinidi (oor die maatskaplike impak), Almal Nankela (oor die argeologiese impak), Carol Steenkamp (oor die ekologie), Prevan Chetty (oor die visuele impak) en die departement van burgerlike lugvaart (oor die impak op burgerlike lugvaart).

Vir kommentaar of navrae, kontak Eloise Carstens of Giesberta Shaanika by 061 247 996 of 081 457 8276, of per e-pos by [email protected], of besoek die webtuiste by http://www.mtc.com.na/environment.

Kommentaar

Republikein 2026-04-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer