Su00f3 het bateklasse in 2017 gevaar
Su00f3 het bateklasse in 2017 gevaar

Só het bateklasse in 2017 gevaar

Effekte het beleggers vir oulaas in 2017 beloon deur die beste maandopbrengs van alle bateklasse – ’n stewige 5,6% net in Desember – op te lewer.
Hanlie Stadler

Die bateklas wat vir die hele 12 maande van 2017 die kroon gespan het, was aandele, met ’n finale opbrengs van 20,95%, aldus die eiendomsfondsbestuurder Catalyst.

Vir die 12 maande het aandele ses keer die beste maandopbrengs opgelewer, effekte drie keer, genoteerde eiendom twee keer en kontant slegs een keer.

Aandele het vier keer die beste jaaropbrengs opgelewer, effekte ses keer en genoteerde eiendom en kontant elk een keer.

Net in Desember het aandele ’n negatiewe opbrengs van -0,34% opgelewer, waartoe die insinking in Steinhoff se aandeelprys straks bygedra het.

In 2017 sou beleggers nie te veel kon fouteer nie, ongeag hoe konserwatief of aggressief hul beleggingsportefeulje was. Dit is omdat al vier die groot bateklasse inflasie getroef het; niemand se geld het dus koopkrag verloor nie.

Die inflasiekoers vir die hele 2017 is nog nie uitgereik nie, maar word op 5,3% geraam.

Die JSE se indeks van alle aandele, dividende ingesluit, het 20,95% opgelewer.

Genoteerde eiendom, soos gemeet aan die indeks van Suid-Afrikaanse eiendom (Sapy), het 17,15% opgelewer, uitkerings ingesluit. Volgens Catalyst beloop nagenoeg 42% van die sektor se totale opbrengs inkomste (uitkerings) en 58% die kapitaalgroei van aandeelpryse.

Effekte, soos gemeet aan die indeks van alle effekte, het 10,19% vir die jaar opgelewer.

Kontant, soos gemeet aan die STeFI, ’n geldmarkindeks, het die laagste opbrengs van die jaar opgelewer, maar het teen 7,52% steeds inflasie geklop.

Die vooruitsig vir verskillende bateklasse vir 2018 lyk maar wisselvallig.

Ontleders het verlede week gewaarsku dat aandele wêreldwyd nie weer so sterk kan groei nie, hoewel beurse waarskynlik steeds sal styg. Plaaslike aandele kan effens aangeblaas word deur beter ekonomiese groei as in 2017, wat maatskappye se wins kan laat styg.

Die Wêreldbank voorspel nou louwarm ekonomiese groei van 1,1% vir Suid-Afrika in 2018, maar dit sal steeds 2017 se verwagte 0,8% klop. Dit is volgens syfers wat die Wêreldbank Dinsdag uitgereik het.

Kontantopbrengste sal styg indien die Reserwebank in die tweede helfte van die jaar die rentekoers verhoog, soos hy in November voorspel het. Intussen het die rand egter aansienlik versterk nadat adj.pres. Cyril Ramaphosa tot ANC-leier verkies is, wat Naeem Tilly, beleggingsontleder van Catalyst, selfs laat glo dat die rentekoers dalk verlaag kan word.

Net soos kontant sal die opbrengs op effekte styg indien Suid-Afrika verder afgegradeer word.

Genoteerde eiendom kan ook voordeel trek uit beter ekonomiese groei en beslis indien die rentekoers verlaag word. Omdat huurkontrakte in winkelsentrums en kantoorgeboue egter op langer termyn vasgepen word, syfer die voordeel nie dadelik deur na maatskappye se huurinkomste nie.

Tilly sê egter verhuurders sukkel op die oomblik om die huur te verhoog wanneer huurkontrakte verval. Groei in handelsdigtheid kan dalk in 2018 stabiliseer, sê hy, maar dit gaan langer duur voordat die laagtepunt van huurstygings bereik is.

Wat kantoorruimte betref, het leegstaansyfers in 2017 tot 11,8% gestyg. Dit beteken ook verhuurders sal die huur nie beduidend kan verhoog nie. Kantoorruimte van nagenoeg 670 000 m², byna 4% van die ruimte wat reeds landwyd beskikbaar is, word op die oomblik ontwikkel, wat die ooraanbod sal vererger.

Eiendomsmaatskappye met buitelandse blootstelling, veral in Oos-Europa, sal straks weer in 2018 goed vaar. Dié lande groei nou die vinnigste sedert die wêreldwye finansiële krisis. - Netwerk24

Maandopbrengs in Desember

Effekte 5,6%

Genoteerde eiendom 4,21%

Kontant 0,56%

Aandele -0,34%

Jaaropbrengs in 2017

Aandele 22,54%

Genoteerde eiendom 17,15%

Effekte 10,19%

Kontant 7,52%

Kommentaar

Republikein 2026-01-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer