Ryp vannag oor groter Namibië verwag

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Ysige koue toestande en ryp word teen môreoggend oor die meeste dele van Namibië verwag, behalwe vir die verre noordweste.

“Ryp gaan waarskynlik oor die meeste dele van Namibië voorkom,” het mnr. Odillo Kgobetsi, hoofweervoorspeller by die Namibiese weerkantoor pas aan Republikein bevestig.

Hy het ook die weerkantoor se amptelike reënsyfers gedeel, waarvolgens 14 mm vanoggend om 08:00 op Aus gemeet is, terwyl Noordoewer 6,4 mm ontvang het en winterreën ook op Rosh Pinah en Lüderitz voorgekom het.

Op die Facebook-groep “Reën in Namibia” is temperature van so laag as -12°C, -5°C en -4 °C op onderskeidelik Kappsfarm en in die Windhoekse woonbuurte Kleine Kuppe en Avis aangemeld. Die kwik het vanoggend op Okahandja tot -2°C gesak, terwyl dit teen 10:30 steeds op -5°C naby Grünau gestaan het.

“Die koue lugmassa wat tans oor Namibië lê, sal nog tot in die naweek vertoef, hoewel temperature in die Weste teen later môre weer sal begin verbeter.

“Dit sal die naweek koel in die sentrale, suidelike en oostelike dele van die land bly, met maksimum temperature van tussen 17°C en 23°C,” het Kgobetsi gesê.

Hy sê temperature in kusdorpe en oor die Namib sal oor die naweek weer begin styg.

FOTO: Maureen Swiegers Esterhuysen het die foto van digte mis vanoggend op Okahandja op die Facebook-groep “Reën in Namibia” geplaas.

Kommentaar

Republikein 2026-07-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer