Rynand Mudge herstel ou geboue

Augetto Graig
Augetto Graig



Windhoek se geskiedenis het sedert 1910 en 1913 voor die historiese Gathemann- en Erkrath-gebou in die stad se hoofstraat afgespeel.

Die geboue, wat langs mekaar deur die argitek mnr. Willi Sander gebou is, het oor die jare neergekyk op groot veranderinge,­ en tyd het sy tol op die strukture geëis.

Mnr. Rynand Mudge was nog 'n jong argitek toe hy in 1994 die Gathemann-gebou by die oorspronklike eienaar gekoop het. Ses jaar later koop hy die Erkrath-­gebou.

Die plaaslike Duitse gemeen­skap was bekommerd oor wat die toekoms vir die geboue sou inhou.

Mudge het derhalwe gemeen­skapsleiers, onder wie die des­tydse burgemeester, mnr. Björn van Finckenstein, na die Heinitzburg-kasteel genooi om almal gerus te stel. Daar het hy die versekering gegee dat die geboue in goeie hande is en is met herstelwerk begin.

Die grootste verandering is gemaak aan die twee afdakke van die geboue. Een was van sinkplaat gemaak, terwyl dié van die Erkrath-­gebou van beton was. Dit het die aansig en oorspronklike ontwerp van die strukture versteek. Deur die jare is al hoe meer vreemde versieringe opgeplak en die ontwerp was bykans onherkenbaar.

'n Deel van die Gathemann-­gebou se dak is vervang en na die oorspronklike ontwerp herstel en die meeste van die versierende houtwerk is óf vervang óf reggemaak. Mudge het die ou afdakke afgebreek en die geboue opgekikker. Die elegante, lang winkelfronte is weer lig gegee en die onooglike gemors is verwyder. Glasafdakke is opgerig, wat genoeg lig deurlaat om 'n mens 'n goeie blik op die geboue te bied, maar ook beskerming teen reën en son te verskaf. Sowat 65 meter is nou weer onderdak vir voet­gangers wat daarlangs wil wandel.

Volgens mnr. Jean Rossouw, argitek van Rynand Mudge Argitekte wat verantwoordelik vir die werk was, sal die nuwe afdakke eers oor 100 jaar weer aandag hoef te kry. Hy sê dit was 'n moeilike projek, maar was vol lof vir die broers Andre en Hansie Schutte van Unique Construction oor hul vasberadenheid om die werk af te handel.

Op 1 Desember vanjaar het die argitekte en kontrakteurs die voltooiing van die projek gevier saam met die geboue se huurders en hul personeel.

Op dieselfde dag het die Windhoek-munisipaliteit vir die eerste keer Onafhanklikheidslaan vir die aanbied van sy jaarlikse Kersmark gesluit en die Kersliggies is ook aangeskakel.

Mudge sê hy het spesiaal die geleentheid gehou om vir die gemeenskap te wys dat hy verbind is tot die stad se landmerke en hoe die twee geboue tot hul oorspronk­like glorie herstel is.

Kommentaar

Republikein 2025-08-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer