Ryers na plaas buite hoofstad genooi
Ryers na plaas buite hoofstad genooi

Ryers na plaas buite hoofstad genooi

Fietsry
Lema Events, ’n gesamentlike onderneming deur twee bekende ryers en fietsry-administrateurs in Mannie Heymans en Leander Borg, bied komende naweek twee byeenkomste aan.

Albei word by Fritzposten in die Khomas Hochland gehou, maar daar word tussen die LEMAride en die LEMArace onderskei.

Die LEMAride strek oor drie dae en begin op Vrydag 24 Julie wanneer die wegspring om 15:00 by Mannie’s Bike Mecca in Suiderhof wegspring. Die eerste skof is net 60 kilometer tot by Fritzposten (op die Kupferbergpad, via Claratal en Vaalgras) en deelnemers is welkom om ook later op hul eie die rit aan te pak. Dit is die oornagpunt waar ook aandete geniet word.

Saterdag om 08:30, ná ontbyt, word die grondpad na die onderpunt van die Us-pas gery. Dit is die halfpadmerk waar verversings geniet word voor die terugrit na Fitzposten vir ’n totale afstand van 110 kilometer.

’n Bykomende rit vir een of twee ure op die plaas kan later die namiidag meegemaak word.

Sondag is daar ná ontbyt verskeie opsies waaruit deelnemers kan kies – 50 km, 80 km of 110 km, wat almal terug in Windhoek eindig.

Die koste van deelname beloop N$1 000 per persoon en sluit middagete, twee keer ontbyt, twee aandete en drie dae se fietsry in. Akkommodasie is nie ingesluit nie, maar daar is opsies om tente te huur.

Die resies is net oop vir mense wat Vrydag en Saterdag daar oornag. ’n Limiet van maksimum sestig deelnemers word ook gestel omdat die verblyfgeriewe beperk is.

• Die LEMArace is net ’n eendagresies vir meer ernstige ryers, wat Saterdag oor 60 km of 90 km wil meeding.

Die wegspring is om 09:00 by Fritzposten (45 minute se ry buite Windhoek per voertuig). Die koste beloop N$250 per deelnemer en sluit middagete, ’n gelukstrekking en geskenk aan alle voltooiers van die resies in. Drankies is vir elkeen se eie sak.

Inskrywings kan by register.chronotrack.com/r/58787 gedoen word, of skakel Mannie Heymans by 081 124 0320 of Leander Borg by 081 128 4794.

Kommentaar

Republikein 2025-08-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer