Rust-verhoor uitgestel
Jacqueline Louw
Die verhoor van mnr. Kai Rust, wat daarvan aangekla word dat hy 'n vermeende stroper op die plaas Otukaru in die Okahandja-distrik doodgeskiet het, is gister in die streekhof in Windhoek deur landdros Alexis Diergaardt uitgestel.
Die rede vir dié uitstel is dat die staatsaanklaer, mnr. Fillemon Nyau, op menslikheidsverlof is as gevolg van 'n familielid se sterfte.
Borgtog is op 3 Julie vanjaar aan Rust toegeken toe die staat ook vir die uitstel van die verhoor gevra het.
Tydens dié geleentheid het mnr. Jan Wessels, Rust se regsverteenwoordiger, aan die landdros uitgewys dat Rust benadeel is deur die weiering van sy borgtogaansoek in Februarie verlede jaar in die landdroshof op Okahandja.
Volgens Wessels was dié weiering die resultaat van valse aantygings wat die staatsaanklaer, me. Rose Nangombe, tydens dié borgtogaansoek gemaak het.
Landdros Diergaardt het tydens die verhoor in Julie gesê sy het die rekord van daardie borgtogaansoek gelees en het toegegee daar was onreëlmatighede by die aansoek. Borgtog is op 3 Julie aan Rust toegestaan nadat hy vir meer as 18 maande in aanhouding was.
Rust staan tereg op klagte van moord en poging tot moord wat spruit uit 'n skietvoorval wat op 27 Januarie 2016 op Otukaru plaasgevind het waartydens 'n vermeende stroper, die 41-jarige mnr. Andreas Ukandanga, dood is.
Getuienis is gedurende die verhoor gelei dat die oorledene deur 'n opslagkoeël getref is terwyl hy gebukkend agter 'n groot rots gesit het en 'n gestroopte koedoe geslag het.
Die verhoor sal op 15 Augustus voortgesit word.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie