Rusland kan die WB suksesvol aanbied, sê JP Nel
Rugby
Marnus Kok
Vir die ontwikkeling van rugby is dit glad nie so 'n vergesogte idee dat Rusland sy naam in die hoed gooi as gasheer vir 2027 se Wêreldbekertoernooi nie.
Reuters berig die Russe se effense onverwagse plan om die toernooi aan te bied, word deur die land se president, Wladimir Poetin, ondersteun.
Die Russiese Rugbyfederasie beplan om die stadions wat gebruik is om 2018 se Wêreldbeker-sokkertoernooi aan te bied, hiervoor aan te wend.
Japan, wat gasheer vir 2019 se toernooi was, is agterna wyd en syd geloof vir die goeie gasheer wat hy was. Ook op die veld het die Brave Blossoms hul kant gebring deur die kwarteindronde te haal – iets wat natuurlik baie vir rugby se groei in die Ooste beteken het.
“Rusland het met die Wêreldbeker-sokkertoernooi gewys hy kan 'n internasionale toernooi aanbied. Dit is 'n eerstewêreldland met 'n puik infrastruktuur, stadions, oefengeriewe, vervoer, veiligheid en dit is boonop 'n pragtige land om te besoek,” sê die 39-jarige Nel, wat die hoofafrigter van Strela-Agro Kazan is.
“So hoekom nie Rusland nie? Om rugby in die algemeen te ontwikkel, moet Wêreldrugby aan ontwikkelende lande die geleentheid bied om die toernooi aan te bied.
“As 'n mens kyk wat die Wêreldbeker vir rugby in Japan gedoen het, kan 'n mens verstaan hoekom Rusland sy naam in die hoed gegooi het. Baie min mense weet van rugby hier en ek dink 'n Wêreldbeker sal rugby in Rusland na 'n ander vlak neem,” sê hy.
Die toernooi in Japan was die eerste keer dat dié skouspel gehou is in 'n land wat nie tradisioneel 'n rugbymoondheid is nie.
Rusland, tans 20ste op Wêreldrugby se ranglys, het al twee keer, 2011 en 2019, aan die WB-toernooi deelgeneem, maar kon nog nie 'n oorwinning behaal nie.
Behalwe Suid-Afrikaanse afrigters soos Nel, Jaco Engels, André Tredoux en Rynhard van As wat in Rusland afrig, het dit die laaste paar jaar 'n gewilde bestemming vir plaaslike spelers geword.
Spelers soos Günther Janse van Vuuren en Stephan Malan speel daar, terwyl die voormalige Springbokvleuel Bjorn Basson verlede seisoen ook 'n draai in Rusland gemaak het.
Daar word verwag dat Wêreldrugby teen Mei bekend gaan maak wie die gasheer is, met Australië wat as een van die gunstelinge beskou word.
Die volgende toernooi, in 2023, sal in Frankryk gehou word.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie