Rundu: Vier glo in een naweek verkrag
Rundu: Vier glo in een naweek verkrag

Rundu: Vier glo in een naweek verkrag

Op Grootfontein het ’n man glo sy buurvrou verkrag.
’n Veewagter het drie minderjarige meisies Sondagmiddag in die Oshushu-nedersetting naby Okongo glo seksueel aangerand.

Volgens die Namibiese polisie se misdaadverslag is die verdagte in aanhouding en die polisieondersoek duur voort.

Nóg twee minderjarige meisies is die naweek glo op Rundu verkrag.

In die Ndama-nedersetting is ’n man (39) in hegtenis geneem ná hy Sondag in die vroeë oggendure glo ’n meisie (14) verkrag het.

Saterdag omstreeks 01:00 het ’n man glo ’n meisie (17) in die Safari-nedersetting verkrag.

Hy is nog nie in hegtenis geneem nie.

Op Rundu alleen is vier verkragtingsake die naweek aanhangig gemaak.

’n Vrou (24) beweer ’n man (37) het haar Saterdag in ’n taxi in die Amta-gebied naby Rundu verkrag.

Die verdagte is in hegtenis geneem.

In die Kehemu-nedersetting naby Rundu is die vermeende verkragter van ’n vrou (35) nog op vrye voet.

Dié voorval het glo Saterdag omstreeks 21:30 plaasgevind.

Nóg ’n vermeende verkragter op Oluno naby Ondangwa is op vrye voet ná hy Vrydag omstreeks 21:00 ’n vrou (25) glo in sy kamer ingedwing en verkrag het.

Die man en vrou ken mekaar glo.

Op Mariental is ’n vrou (23) Saterdagaand in Takarania deur ’n man (43) glo met ’n mes gedreig en verkrag. Hy is in hegtenis geneem en die polisieondersoek duur voort.

Op Grootfontein in die Saamstaan-lokasie is ’n man (56) in hegtenis geneem nadat hy na bewering sy buurvrou (26) Saterdagaand verkrag het.

’n Man het Saterdag omstreeks 06:00 in Havana in die hoofstad ’n vrou (21) glo by ’n kroeg gegryp, haar aangerand, op die grond gegooi en verkrag.

Die verdagte is in hegtenis geneem en die polisieondersoek duur voort.

Kommentaar

Republikein 2026-04-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer