Rugbyspeler met drie huise 'bedrieg'
Misdaad
Jeanne-Marié Versluis - Sy plan om vir homself finansiële gemoedsrus te verseker nadat sy rugbyloopbaan geëindig het, het ernstig skeefgeloop, sê die voormalige WP-flank van Namibië, Rohan Kitshoff.
Hy het nie een nie, maar drie meenthuise gekoop by die sakeman André Pierre Gerrit Rossouw, wat hom belowe het dat hy genoeg huurinkomste sou verdien om die huislenings te betaal.
Maar toe droog die betalings op en Rossouw verdwyn tussen neus en ore. Die banke het elk van Kitshoff se drie huise teruggevat omdat hy nie die paaiemente kon bekostig sonder die vet huurinkomste wat Rossouw hom glo beloof het nie.
Nou is die Valke ook op Rossouw se spoor met 'n bedrogdossier. Volgens kapt. Ndivhuwo Mulamu, 'n woordvoerder van die Valke, vermoed hulle Rossouw het aan verskeie ander mense ook 'n kat in die sak verkoop.
Een van hulle is die gewese Puma-rugbyspeler Marcello Sampson.
Die regsfirma Du Toit-Smuts & Mathews Phosa het in 2016 in 'n brief wat intussen by die hooggeregshof ingedien is, aan die Mpumalanga-rugbyunie geskryf Sampson is ingeloop.
Volgens die brief het Rossouw hom oortuig om eiendomme te koop by 'n maatskappy wat glo deur Rossouw of mense naby aan hom beheer word. Die eiendomme is gekoop teen erg oordrewe pryse, beweer die regsfirma.
Dit het later geblyk die huurinkomste was nie naastenby genoeg om die verbandterugbetalings, heffings, ensovoorts te dek nie.
Kitshoff sê Rossouw het Kaap toe gevlieg om vir hom 'n voorlegging te kom doen terwyl hy nog vir die WP gespeel het.
Hy sê omdat 'n rugbyspeler se loopbaan net só lank is, moes hy voorsiening maak vir sy toekoms daarna.
“'n Paar van my vriende het huise deur Rossouw gekoop. In 2013 het hy my genooi om in huise te belê. Ek het toe my huiswerk gedoen.
“Ek het by my vriende gehoor of daar probleme was. In daardie stadium het hulle gesê daar is geen probleme nie.”
Rossouw het blykbaar vir hom gesê hy sal sorg vir huurders en Kitshoff sal geen uitgawes hê nie.
“Dit was weens sy versekering en wat die ander ouens gesê het, wat dit 'legit' gelyk het. Ek wou aanvanklik net een plek hê, maar hy het my oortuig om drie te vat.”
Kitshoff sê Rossouw het vir hom verbandlenings gekry by FirstRand, Standard Bank en Absa. Hy weet nie hoe Rossouw dit reggekry het om verbandlenings te kry waarvan hy nie die paaiemente kon bekostig nie.
Saam met die uitstaande verbandlening vir sy huis in die Kaap, het Kitshoff banke nou altesaam R3 miljoen geskuld.
Rossouw het gesê hy sal al die risiko's dra, sê Kitshoff. “Hy het gesê hy sal die erfbelasting en dienstegeld ook betaal en dit kan afgetrek word van inkomstebelasting.”
Maar wat Rossouw glo nié vir hom gesê het nie, is dat die huurinkomste nie eens die helfte van die paaiemente op die verbandlenings beloop het nie.
“Ek het vir Rossouw gesê as die plekke gaan leegstaan, gaan ek dit nie kan betaal nie. Die hele storie is 'n gemors. Dis 'n helse bron van stres en 'n verleentheid. Ek probeer dit net agter my sit.”
Kitshoff sê daar is 'n WhatsApp-groep van sowat 40 mense “wat nog vasklou aan die hoop dat hulle hul geld gaan terugkry”.
“Baie ander het gesê die banke moet hul huise terugvat.”
Volgens die Valke het hulle inligting gekry dat Rossouw in die Kaapstad-omgewing is. – Netwerk24, Rapport

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie