Rugbybase bekragtig nuwe toetsvenster
Rugbybase bekragtig nuwe toetsvenster

Rugbybase bekragtig nuwe toetsvenster

Rugby
Wêreldrugby se uitvoerende raad het Donderdag die tydelike wysiging aan vanjaar se internasionale toetsvenster amptelik bekragtig.
Hiermee word die regulasie 9-voorskrif, wat bepaal wanneer klubs hul spelers vir toetsrugby moet vrystel, aangepas.
Dié beheerliggaam sê in ’n verklaring die wysiging is as ’n tydelike maatreël goedgekeur om die invloed te versag wat die Covid-19-pandemie op die spel het.
“Dit bied ’n welkome hupstoot vir spelers, spanne, ondersteuners en uitsaai- en kommersiële vennote.”
In die Noordelike Halfrond sal spelers op 24 Oktober vir internasionale diens vrygestel word, sodat vanjaar se Sesnasies-reeks voltooi kan word.
Dié toetsvenster sal tot 5 Desember strek, terwyl spelers teen 7 November beskikbaar moet wees vir 2020 se Rugbykampioenskap in die Suidelike Halfrond.
Wêreldrugby het bevestig Sanzaar het Nieu-Seeland gevra om die kampioenskap oor ses weke tot in die tweede naweek van Desember aan te bied.
Spesiale maatreëls sal in werking gestel moet word vir enige kwarantynvereistes wat die Nieu-Seelandse regering teen daardie tyd kan hê.
“Die pandemie het ’n ongekende invloed op die samelewing en sport en, deur dié proses, het al die rolspelers besluit op die beste uitkoms om die belange van internasionale en klubrugby, sowel as die welstand van die spelers te bevorder,” sê Bill Beaumont, Wêreldrugby se voorsitter.
“Die tydelike ooreenkoms is opwindend vir spelers en ondersteuners en is ’n belangrike stap om ons lidlande ’n finansiële inspuiting te gee.” – Netwerk24

FOTO
’n Silhoeët van die nuwe All Black-kaptein, Sam Cane. Hy sal Nieu-Seeland in November op tuisbodem in die Rugbykampioenskap aanvoer. Foto Getty Images

Kommentaar

Republikein 2026-07-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer