Rugby as nommer een sport bestem
Rugby as nommer een sport bestem

Rugby as nommer een sport bestem

Afrigters vanoor die wêreld het 'n virtuele akademie van Wêreld­rugby meegemaak.
Tielman van Lill
Tielman van Lill



Wêreldrugby het die afgelope tyd virtuele kususse vir 265 deelnemers van 33 rug­byunies deur sy hoëprestasie-aka­demie aangebied om afrigters vir die komende internasionale seisoen voor te berei.

Van die wêreld se topafrigters, soos die Australiër Eddie Jones as aanbieder, was by die belangrike slypskool betrokke. Dié inisiatief is in Meimaand van stapel gestuur toe Covid-19-inperkings en geslote grense sport internasionaal tot stilstand gedwing het.

Saam met Jones wat tans Engeland afrig, was onder andere Scott Wisemantel (Australië) en die gewese toetsblaser Craig Joubert van Suid-­Afrika, wat saam met die internasionale elite krag- en kondisioneringsafrigters asook hoëprestasiekundiges hul kennis gedeel het.

Die idee van die kursus was om die vertonings van ontluikende rugbylande op die veld te verbeter deur vernuf en kennis met hul breiers en beamptes te deel. Verbeterde kommunikasie deur netwerke tussen Wêreldrugby se personeel is van kardinale belang om vrae te beantwoord en inligting te deel.

Die sewe hoofpunte wat bespreek was, is afrigting, atletiese vertoning, wedstrydbeamptes, wedstrydontleding, bestuur en leierskap, spanbestuur en toernooibeplanning.

Mike Friday, deelnemer en hoofafrigter van die VSA se sewesspan, gee sy indrukke van die kursus.

“Dit is ongelooflik en prysenswaardig. Dit het ons die kans en vermoë gegee om vele nuwe dinge te leer om by jou span te probeer. Wat ek regtig geniet het, is dat idees van mede-afrigters vanoor die wêreld met ons gedeel is. Om dit te verstaan, moes ons dit met die kundiges van rugby bespreek. Nie net die feite nie, maar ook die hoekoms en waaroms het jou 'n meer volledige insig gegee,” het hy gesê.

Die aanvalsafrigter Scott Wisemantel sê hoewel lande teen mekaar meeding, is die afrigters gewillig om hul kennis te deel.

“Afrigters is deeglik van mekaar bewus waar lande gereeld teen mekaar speel, maar daar is 'n bereidwilligheid en vertroue onder die ouens om hul kennis en idees te deel. Kursusgangers het heeltyd iets nuuts geleer.”

Eddie Jones het gesê die diversiteit tussen lande se benadering tot rugby hou dinge interessant.

“Ek het regtig die kulturele verskille en benadering van die verskillende nasionaliteite geniet, hoe hulle rugby benader om hul eiesoortige probleme te oorkom sodat hulle internasionaal meer kompeterend kan word.

“Die groot ding van rugby is dat daar nie geheime is nie. Jy weet dit is 'n eenvoudige spel. Elkeen van ons het sy eie manier hoe om 'n ding te doen en hoe meer jy jou idees deel, hoe vinniger moet jy nuwe maniere en planne smee om daardie bietjie beter as jou mededinger te wees.

“Dit is lekker om jou kennis met ander rugbyentoesiaste te deel. Daar was verskeie interessante dae. Jy skop byvoorbeeld in die Stille Osean af en eindig met 'n kursus in die Amerikas.

“Ons het aanbiedings voorberei om reaksie by die kursusgangers uit te lok en dit is dan met 'n virtuele bespreking opgevolg. Dit is wat die kursus so interessant en lekker maak. Jy praat met verskeie afrigters oor die wêreld om van hul ondervinding te hoor en jou kennis te deel. Dan bespreek ons dit om te sien waarheen dit ons lei.

“Ek is versot op dié spel en wil rugby as die nommer een sport in die wêreld sien,” het Jones sy passie verwoord.

In 2017 was Jones Wêreldrugby se afrigter van die jaar. Hy het reeds die Webb Ellis-trofee en 'n hele paar Bledisloe-bekers omhoog gehou en die Sesnasies gewen, maar sê hy kan steeds by ander afrigters van ander lande en nasionaliteite kers opsteek deur na hulle te luister.

 - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer