Rower hou egpaar, baba aan
Nóg 'n paartjie is oor die naweek helder oordag by 'n gewilde ontspanningsplek vir veral gesinne beroof.
Henriette Lamprecht - 'n Piekniek by die Avisdam buite Windhoek het Sondag vir 'n egpaar van Windhoek in 'n nagmerrie ontaard toe hulle deur 'n gewapende man aangehou en beroof is.
Die egpaar se sewe maande oue babadogtertjie was tydens die voorval by. Die dam is gewild onder van stappers tot fietsryers en is veral naweke vol besoekers.
Volgens die vrou, wat verkies het om anoniem te bly, het hulle Sondag skuins ná 14:00 by die dam opgedaag om piekniek te gaan hou. Haar man het hul babadogtertjie in 'n drasak teen sy bors gedra. “Ons wou net 'n lekker, rustige dag buite deurbring.”
Die paartjie het verby die sluise tot anderkant die dam gestap waar hulle 'n geskikte plek vir hul piekniek langs die water gekry het.
“Dit was baie stil. So 50 meter van ons af het iemand met 'n hond naby die water gestap en verder, byna buite sig, was nog iemand.”
Die egpaar het 'n kombers oopgegooi, hul babadogter neergelê en peuselhappies en drinkgoed uitgepak.
“Ek het in 'n stadium opgekyk en kon op my man se gesig sien iets is nie reg nie,” het die vrou gesê.
'n Gewapende man het uit die bosse voor die egpaar verskyn, 'n pistool uitgehaal, oorgehaal en op haar man gerig. Die man het vinnig en in kort sinne gepraat en haar man beveel om sy beursie te oorhandig.
“Hy het egter net sy selfoon by hom gehad; ons beursies en my handsak het ons in die motor toegesluit.”
Haar man het gewys hy het niks in sy sakke nie en die selfoon en sy trouring aan die rower oorhandig. Die rower het daarop aangedring dat die vrou ook haar trouring oorhandig.
“Ek het gesukkel om myne af te kry, maar dit vir hom gegee. Hy wou van my ook 'n beursie hê, maar ek het vir hom gewys ek het 'n langbroek aan wat nie sakke het nie.” Die ring het aan die vrou se ouma behoort.
Die rower het in hul babadogter se sak en die piekniekmandjie begin grawe en vir hom 'n koeldrank gevat en dit gedrink.
“In 'n stadium het hy aan my man gesê om sy plakkies uit te trek sodat hy kon sien of dit vir hom sal pas. Hy het orals gesoek en gekrap, tot onder die kombers, en 'n handreiniger gevat wat in die babasak was. Ons moes die koeldrank, alles, vir hom in die babasak sit.”
Volgens die vrou het sy in 'n stadium begin huil, iets waarvan die rower nie gehou het nie.
“Hy het gesê 'no madam, I didn't do anything to you'. My man het vir hom verduidelik ek is net ontsteld.”
Volgens die vrou het die man met sy buit terug teen die berg op verdwyn. Toe hulle die voorval by die sekuriteitswagte by die dam aanmeld, het hulle glo gesê “it was the same guy that was previously busy”.
Sowat 80 meter van waar die egpaar beroof is, is grotte geleë en die vermoede bestaan dat 'n bende van tot ses mense hier woon.
“Die rower het sy tyd gevat en jy wonder of jy doodgeskiet gaan word en of hy eerste jou kind gaan skiet. Die voorval het seker net 15 minute geduur, maar dit het soos 'n ewigheid gevoel.”
In Februarie vanjaar is 'n paartjie teen skemer by die dam deur drie mans aangehou wat met 'n vuurwapen en messe gewapen was. Dit het gevolg enkele dae nadat nóg 'n egpaar die vorige dag by Farm Windhoek deur twee mans, ook gewapen, oorval is. Die modus operandi van die verdagtes in dié voorvalle het op 'n moontlike verbintenis tussen die twee voorvalle gedui.
Intussen het 'n buurtwaglid gesê dit wil voorkom asof veral gewapende roof al hoe meer in die hoofstad voorkom.
Die woonbuurte wat die meeste geteiken word, sluit Kleine Kuppe, Avis, Ludwigsdorf, Eros en Klein Windhoek in.
Oor die naweek het drie gewapende mans Saterdag skuins ná 01:00 probeer om by 'n huis in Ludwigsdorf in te breek. Die rowers het geskiet op die eienaar wat die lawaai gehoor en na buite beweeg het. Hy het teruggevuur, waarna die rowers gevlug het.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie