Rou werklikheid van emosionele verwaarlosing
Rou werklikheid van emosionele verwaarlosing

Rou werklikheid van emosionele verwaarlosing

Denver Kisting
“Niémand wen as jy nie kan eerlik leef nie. . .”

’n Vriendin stuur Woensdagaand vir my hierdie boodskap.

Dit het gekom nadat ek vroeër ’n plasing gedeel het oor emosionele verwaarlosing.

Kragtens ’n plasing op The Holistic Psychologist op Facebook is die meeste van ons as kinders emosioneel verwaarloos.

Boonop, sê die skrywer, was of is die meeste van ons nie eens bewus van dié verwaarlosing nie.

Sy sê sy het eers in haar vroeë 30’s ontdek hoekom hulle op die oppervlak soos ’n hegte gesin gevoel het, maar terselfdertyd nie geweet het hoe om te connect nie.

Veral, sê sy, het hulle gesukkel om moeilike gesprekke te hê.

Om hul emosies in toom te hou sonder uitbarstings, swanger stiltes en om op die verdediging te wees.

Is dit iets waarmee baie van ons kan identifiseer as ons eerlik is met onsself en dieper delf?

Volgens haar vind emosionele verwaarlosing plaas omdat ons ouerfigure ook emosioneel aan hulle eie genade oorgelaat is.

Hulle het ook nie oor die vaardighede beskik wat nodig was om met hul kinders ’n diep band te vorm nie, sê sy.

Baie hedendaagse ouers trap wat my betref steeds in die strik van “dis wat my ouers met my gedoen het en dit het gewerk; ek is nie dood nie.”

Wel, jy mag dalk fisiek nog leef, maar het dit regtig gewerk?

Die uiteinde van emosionele verwaarlosing is dat ons patrone en gedrag aanleer waarmee ons desperaat daarna strewe om gekies te word.

Om ingesluit te word. Om genooi te word. Om nie verwerp te word nie.

Sy sê dít gebeur in ons romantiese ruimtes, in ons vriendskappe en selfs by die werk.

“So baie van ons strewe daarna om gekies te word sonder om eens te verstaan hoekom. Ons jaag dit, verraai onsself en smag daarna om gekies te word – selfs as daar nie aan ons behoeftes voldoen word nie.”

Selfs wanneer daar konflik is, sê sy.

Selfs, meen sy, wanneer die verhouding nie die regte fit is nie, want die bedreiging, die vrees van selfs verbeelde verwaarlosing is eenvoudig veels té pynlik om in die oë te kyk.

Sy maak die gevolgtrekking dat om daarna te smag om gekies te word, is ’n oorlewingsmeganisme wat ontleer kan word soos ons dieper in voeling kom met ons ware, egte self.

Daar is oorweldigende konsensus dat Covid-19 alles van almal van ons – en die wêreld om ons – aan die kaak gestel het.

Al ons onderrokke hang lelik en liederlik uit.

Daarmee stem ek saam. Dié eienaardige tydperk en die onsekerheid, wispelturigheid, fisieke en emosionele ellende en rigiede regulasies het definitief ons maskers laat aftuimel.

’n Mens kan steeds daagliks sien wie mense regtig is; watter politici by uitstek opportunisme beliggaam en omarm; watter agendas gedryf word; watter bose planne in die mou gevoer word; en hoe die samesweringsteoretici uit hul kaste tuimel.

Maar ek wens méér kan uit die kas tuimel. Ek wens meer mense kan eerlik wees met hulleself oor wie hulle werklik is. Ek wens almal van ons kan dink oor hoe ons veroordeling mense dwing om oneerlik te wees.

Ek wens ons kan die geskenk van tyd en introspeksie wat Covid-19 bied, gebruik om wakker te word. Om te besef en te erken dat ons emosioneel verwaarloos is, omdat ons ouers nie van beter geweet het nie.

Maar dat ons ’n reuseverantwoordelikheid het om ons kindertydwonde trompop te loop, om die patrone en gedrag wat ons tot dusver gehelp het om te oorleef, te ontleer.

Dat ons die skanse binne onsself sal afbreek en begin bou aan ’n nuwe begin.

Sodat ons beter verhoudings met onsself en, gevolglik, met ander sal hê.

Sodat ons ’n gesonde, heilsame samelewing sal hê.

Kommentaar

Republikein 2025-12-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer