Rooilyn: Regering haal strydbyl uit
Rooilyn: Regering haal strydbyl uit

Rooilyn: Regering haal strydbyl uit

Ellanie Smit
Ellanie Smit – Die regering is van plan om 'n hofsaak te beveg waarin die Affirmative Repositioning (AR)-aktivis en burgemeester van Windhoek, dr. Job Amupanda, aandring op die verwydering van die veeartsenykordonheining (VCF), ook bekend as die Rooilyn.

Amupanda het die eis op 26 Mei ingedien, en het gevra vir 'n hofbevel om die heining te laat verwyder en onwettig en ongrondwetlik te verklaar.

Die verweerders in dié saak is die minister van landbou, water en grondhervorming, mnr. Calle Schlettwein; die regering; die prokureur-generaal, mnr. Festus Mbandeka, en 'n amptenaar van die direktoraat veeartsenydienste, mnr. Hango Nambinga.

Al die verweerders het 'n kennisgewing van voorneme om te verdedig by die hoërhof ingedien.

Ons susterkoerant Namibian Sun het vroeër berig 'n gesamentlike dagvaarding is op 26 Mei aan die verweerders beteken en dat hulle 21 dae gehad het om daarop te reageer.

Die verweerders het die hof egter ingelig dat hulle die dagvaarding eers op 17 Junie ontvang het en dat hulle dus nog tyd gehad het om hul kennisgewing van voorneme om te verdedig in te dien.

In sy eis het Amupanda aangedring die hof moet die landbouministerie beveel om die heining binne 90 dae te verwyder.

Hy het die hof voorts gevra of die Rooilyn deur enige wetgewing goedgekeur word, aangesien hy voel “sulke wette skend die menswaardigheid van Namibiërs, en is diskriminerend en ongrondwetlik”.



DISKRIMINEREND

Amupanda het die VCF beskryf as 'n wrede, skandelike en drakoniese beleid wat die diskriminasie teenoor mense wat noord van die rooilyn woon, wil handhaaf.

Volgens hom is die heining opgerig om as 'n skild te dien en mense en hul vee wat suid van die Rooilyn woon, teen skynbare of werklike siektes wat noord van die Rooilyn ontstaan, te beskerm.

“Hierdie beskerming en isolasie word nie verleen aan mense wat noord van die Rooilyn woon met hul vee nie. Dit is diskriminerend,” het hy gesê.

As sy poging om die Rooilyn te verwyder suksesvol is, sal Namibië meer as N$6 miljard se inkomste verloor, het die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) gewaarsku. 

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer