Rooibos Bpk. in tribunaal se visier
Rooibos Bpk. in tribunaal se visier

Rooibos Bpk. in tribunaal se visier

Rooibos Beperk, die grootste verwerker van rooibostee in Suid-­Afrika, is na die Mededingingstribunaal verwys vir vervolging.

Klagtes teen Rooibos Beperk handel oor die misbruik van sy markoorheersing deurdat hy rooibostee-produsente aangespoor het om nie met sy mededingers sake te doen nie, lui 'n verklaring van die Mededingingskommissie wat Maandagmiddag uitgereik is.

Die klagte volg op 'n ondersoek deur die Mededingingskommissie nadat hy in 2015 'n klagte ontvang het. Die kommissie het Rooibos Bpk. se monopolisering van voorraad vanaf kommersiële boere ondersoek om te kyk of hy sy mededingers uit die waardeketting dwing of hul uitbreiding verhoed.

Rooibostee groei slegs in die Cederberg-streek in distrikte soos Clanwilliam, Graafwater en Citrusdal. Dis 'n unieke kafeïenvrye produk wat hoë vlakke van antioksidante bevat en nêrens anders ter wêreld groei nie.

Gesien in die lig daarvan dat die produk slegs in 'n klein geografiese gebied groei, is die bron van waar voorraad bekom kan word baie beperk en toegang daartoe deur rooibosteeprodusente is noodsaaklik as hulle mededingend in die mark wil bly, lui die verklaring.

Alhoewel daar sowat 220 kommersiële rooibosteeboere in die Wes- en Noord-Kaap is, verskaf slegs 'n beperkte hoeveelheid van hierdie boere die grootste gedeelte van die rooibostee wat aan die verwerkers verskaf word. Rooibosteeverwerkers koop die tee in grootmaat vanaf kommersiële boere aan waarna dit gedroog en behandel word. Daarna word dit herverkoop aan die plaaslike verpakker en die uitvoermark as 'n grootmaatproduk voordat die finale produk vir die mark verpak word.

“Rooibos Bpk. bly 'n dominante speler in die verwerking van rooibostee omdat hy die bates en die oorheersende posisie geërf het van sy voorganger, die Rooibostee-beheerraad,” verduidelik Sipho Ngwema, woordvoerder van die kommissie.

Die Rooibostee-beheerraad is in 1954 deur die vorige regering ingestel om onder meer navorsing, bemarking en prysregulering in die bedryf te beheer.

Sommige van die nuwe toetreders in die rooibostee-verwerkingsbedryf is juis boere wat ontevrede was met die monopolie wat Rooibos Bpk. gehad het.

Histories het rooibostee-verwerkers hul voorraad van boere verkry deur jaarkontrakte met hulle te sluit. Maar in 2014 het Rooibos Bpk. twee nuwe strategieë met kontrakte begin volg, wat die voorraad vir langer tydperke vasgeteken het of mededingers uitgesluit het.

“Dus is die mededingers daarvan weerhou om toegang tot 'n produk te kry wat net in 'n klein geografiese gebied groei,” sê Ngwema.

Eerstens het Rooibos Bpk. 'n langtermynooreenkoms met boere vir vier jaar tot in 2018 gesluit. Ingevolge hierdie ooreenkoms is daar van boere vereis om 'n bepaalde volume tee aan Rooibos Bpk. te lewer.

Tweedens het die maatskappy 'n verbintenis van sy verskaffers gevra om voorraad te lewer in ruil vir toegang tot sy produknavorsing. In die besonder is daar van boere verwag om tot die helfte van hul produksie aan Rooibos Bpk. te lewer. Die maatskappy het sy navorsingsresultate uitgebuit om sy verskaffers in kontrakte vas te teken ná die ineenstorting in 2014 van die rooibostee-navorsing wat deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Landbounavorsingsraad gedoen is.

“Die instelling van hierdie strategieë het aansienlike volumes van die kommersiële rooibostee-produksie ten gunste van Rooibos Bpk. vasgeteken en sy mededingers in die grootmaatmark negatief geraak,” lui die verklaring.

Die gevolg was dat Rooibos Bpk. se volume rooibostee-aankope – wat daardie tyd ernstig gedaal het – aansienlik toegeneem het. Sy vernaamste mededingers se aankope het in hierdie tydperk óf gestagneer óf afgeneem en dus mededinging in die mark bedreig.

Die kommissie het die klagte na die tribunaal verwys en vra 'n bevel dat Rooibos Bpk. die Mededingingswet oortree het en aanspreeklik gehou moet word vir 'n boete van 10% van sy jaarlikse omset.

“Die kommissie is bekommerd oor Rooibos Bpk. se deurlopende teenmededingende gedrag, veral aangesien dit die groei van die landbou-verwerkingsbedryf in Suid-Afrika benadeel,” sê Hardin Ratshisusu, adjunk-kommissaris.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer