Riviere in vloed gee kykers genot
Die grootste damme in die land kry steeds beduidende invloei.
Tanja Bause – Danksy wydverspreide reën die afgelope dae oor Namibië loop talle riviere sterk op pad see toe.
Van die Hoanib in die Kunenestreek tot die Tsauchab wat in die woestynbestemming Sossusvlei inloop, het Namibiërs op hol gejaag om die seldsame geleenthede te beleef.
Die Gaubrivier het Vrydag afgekom en bome, takke en ander opdrifsels oor die Gaubbrug gespoel, wat die C14-grondpad tussen Walvisbaai en die Suide tot Saterdagnamiddag ontoeganklik gemaak het.
Volgens mnr. Hein Schultz, die eienaar van Rostock Ritz Desert Lodge in die Suide, het nadat hy Vrydagaand by die brug ondersoek gaan instel het op ’n WhatsApp-groep laat weet die brug is toe.
“Die volgende oggend is ek en my manne soontoe om die brug oop te maak en al die mense van die buurplase het hand kom bysit. Ook toeriste wat op pad was, het met groot opgewondenheid gehelp opruim. Ons het van beide kante af begin skoonmaak met bakkies, mannekrag en ’n trekker van die plaas Oase af. Teen die middagtyd was die brug skoon.”
Volgens hom loop die rivier elke reënseisoen, maar net so elke derde jaar vloei die water oor die brug en kos dit agterna opruimingswerk.
“Die water het sowat een meter hoog oor die brug gevloei. Dis omdat dit stroomop by die Gamsberg so baie gereën het. Daar was plase waar oor die 100 mm gemeet is. Op ons lodge self het Vrydag 60 mm geval en voor dit 6 mm en 20 mm – reeds meer as wat ons die afgelope vier jaar ontvang het.
“Verskeie van ons buurplase het reeds hul gemiddeld van tussen 80 mm en 100 mm per jaar oortref.”
Volgens hom is drie voertuie reeds dié seisoen in die Tsauchab- en Tsondabrivier weggespoel.
“Niemand is beseer nie; net die voertuie het skade gely.”
RIVIERE
Die Kuisebrivier in vloed het Vrydag omstreeks 17:00 by die Gobabeb Research & Training Institute sowat 97 km suidoos van Walvisbaai aangekom en teen gister het dit steeds geloop.
Volgens Monique Tredoux, ’n student by die instituut, was almal baie opgewonde toe hulle hoor die rivier is op pad na hulle toe.
“Ons was net betyds om te sien hoe die rivier deur die sand aankom; dit was ’n uiters besonderse gesig. Ons het so geseënd gevoel om dit te beleef. Die rivier het met redelike spoed en krag gevloei, maar ek het my voete darem so ’n bietjie natgemaak.”
Ook die Khanrivier het sterk afgekom en die Swakoprivier het verby Goanikontes en die sandgate gevloei.
In die Kunenestreek het die Gontagab-, Hoanib-, Aba-Huab- en Hoarusebrivier gevloei.
Mnr. Jurgens Strydom het op Namibia Tours & Safaris se Facebook-blad foto’s van die Aba-Huab geplaas en gesê: “Voel dankbaar. Die rivier vloei verby Twyfelfontein. Die plaaslike mense sê hulle het die afgelope tien jaar beswaarlik enige reën gekry.”
Die pad tussen Okongwati en Opuwo het ook weens sterk reënbuie in die streek verspoel en mense is gewaarsku dat kitsvloede kan voorkom.
Die Tsauchabrivier in die Suide het intussen ook weer Vrydag afgekom en is sterk op pad deur die Sesriemcanyon na Sossusvlei. Sossusvlei was in 2000, 2006, 2011 en verlede jaar ook vol water.
Die Kameelhaar- en Dirichasrivier, wat saam met die Visrivier in die Hardapdam invloei, is slegs twee riviere in dié opvangsgebied wat sterk afgekom het.
DAMME
Die Hardapdam se vlakke het die afgelope Saterdag tot 75,3% gestyg omdat die tempo waarteen water die dam binnegevloei het, meer was as wat by die sluise uitgelaat is, berig Elvira Hattingh.
Gister omstreeks 12:00 is die sluise weer eens groter oopgetrek sodat dit 400 m³ water per sekonde uitlaat. Tóé was die dam 73,2% vol en die hoop was dat die dam teen gisteraand weer tot op die 70%-merk sou daal.
Water het dit toe steeds teen 165 m³ per sekonde binnegevloei.
Die Nautedam se sluise is die afgelope Vrydag vir die tweede keer in ’n week oopgetrek toe die dam sowat 100,7% vol was.
Altesaam sewe nasionale damme het die afgelope week water ingekry. Volgens ’n tussentydse damverslag wat láát Vrydag deur NamWater uitgereik is, het die Neckartaldam oor die tydperk meer as 15 miljoen kubieke meter (Mm³) water ontvang en die afgelope Vrydag op 94,3% vol gestaan.
Die Swakoppoortdam het van 74,9% verlede Maandag tot 77,2% Vrydag gestyg, terwyl die Oanob ook van 74,8% tot 75,3% gestyg het. Die Von Bachdam het ook van 46,5% tot 46,7% gestyg, terwyl die Friedenaudam se vlak oor dieselfde tydperk van 76,7% tot 85,7% gelig het.
– [email protected]
FOTO’s
Boere en lodge-eienaars van die suide het Saterdag die brug van die Gaub-rivier opgeruim wat weens puin van die rivier in vloed gesluit moes word. Foto verskaf
Die Tsauchab-rivier loop in die Sesriemcanyon in en dan verder na Sossusvlei toe. Foto Björn Basler
Junian Menge het die foto van die Kuisebrivier geneem toe die rivier by die Gobabeb Research & Training Institute aangekom het.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie