Revolusie oor en uit
Pik Botha, Leopold Scholtz en Max de Preez deel hul herinneringe van Castro.
Erika Gibson
Fidel Castro, die voormalige Kubaanse president wat 638 aanslae op sy lewe deur die Amerikaanse CIA oorleef het, is uiteindelik aan natuurlike oorsake dood.
Hy was 90 jaar oud toe hy Vrydagnag (Suid-Afrikaanse tyd) ná ''n lang siekte gesterf het. Hy was tot op sy sterfbed onwrikbaar revolusionêr in sy denke.
Sy broer, Raúl, wat sedert 2008 die tuig by hom as president oorgeneem het, het sy dood op staatstelevisie in Kuba aangekondig met Fidel se leuse wat hom tot op die laaste aangedryf het: “Altyd voorwaarts na ''n oorwinning! (Hasta la victoria siempre!)”
Hy was veral in die oë van die ouer garde ''n held wat in 1961 op ''n tenk die mislukte CIA-inval by Varkebaai help afweer het, maar hy het in die meer as 50 jaar as president sy land só ekonomies verrinneweer dat dit waarskynlik nóg 50 jaar gaan neem om te herstel.
Hy was nie net ''n revolusionêre leier nie – hy wás die revolusie wat Kuba in 1959 stormenderhand oorgeneem het. Saam met sy goeie vriend, Che Guevara, wie se gesig ikoniese proporsies op rebelse jeugdiges se T-hemde aangeneem het, het hy dekades lank sy kommunistiese ideologie onder sy landgenote aangevuur.
As hulle nie saamgestem het nie, is hulle tereggestel.
Pik Botha onthou
“Fidel Castro het my een ding geleer en dit is dat jy moet weet wat jou opponent in enige onderhandelings of oorlog aandryf, want dan weet jy hoe sterk is sy dryfveer,” het Pik Botha, oudminister van buitelandse sake, gesê.
Botha was deel van die onderhandelinge met die Kubane – eers in die Kongo (Brazzaville) en later in Kaïro – voordat ''n vredesooreenkoms oor onafhanklikheid in Namibië en die onttrek-king van Suid-Afrikaanse troepe aan Angola bereik is.
Dít was nadat die Kubane as militêre raadgewers die Grensoorlog tussen Suid-Afrika en Angola aan die kant van die vryheidsmagte help dikteer het.
“Wat uiteindelik die deurslag gegee het, was dat Fidel vir sy mense moes kon sê dat hy met eer uit die stryd getree het eerder as met skande,” sê Botha. “Castro is aangedryf deur haat vir die VSA en sou álles opgeoffer het om van die skandvlek as minderwaardige land ontslae te raak. Ons het vrede gemaak nie deur hom tot lafaard uit te kryt nie, maar met waardigheid te laat onttrek.”
Volgens Botha was die skokkendste voorbeeld van Castro se ekstreme heerskappy toe hy genl. Ochoa Sánchez, ''n vertroueling en nasionale held van Kuba, voor ''n vuurpeloton tereggestel het vir die nederlaag wat hy teen die Suid-Afrikaanse en Unita-magte in Angola gely het. Meer as 4 700 Kubane en Fapla-troepe het tussen September 1987 en April 1988 in dié stryd gesneuwel, sê Botha. Suid-Afrika het 31 soldate verloor.
Die geveg by Cuito Cuanavale was die laaste strooi voordat Sánchez en nog vier van sy senior offisiere deur ''n krygshof in Kuba skuldig bevind en doodgeskiet is.
Uitstekende strateeg
“Wat ''n mens ook al van Castro se politieke oortuigings wil dink, dit kan nie ontken word dat hy uitstekende strategiese insigte gehad het nie. Met sy Angolese ingryping in 1975 het hy die VSA, Suid-Afrika en die Weste volkome onkant betrap, maar hy het besef dat hy nie te diep ingesuig moet word nie,” sê die militêre geskiedskrywer Leopold Scholtz.
“In die jare tot 1988 het hy sy troepe sover moontlik buite gevegte gehou en op grootpratery en dreigemente – ''n legitieme strategiese drukmiddel – gekonsentreer.
“Sy korrespondensie met sy bevelvoerders in Angola wys goeie taktiese insigte. Sy skielike mars na die Namibiese noordgrens in 1988 was strategies briljant.
“Die Suid-Afrikaanse Weermag se analise was dat hy die destydse Suidwes nie sou binneval nie, maar dit het genoeg onsekerheid by die Suid-Afrikaners geskep dat dit ''n bydrae tot die uiteindelike vrede gelewer het.”
Pres. Jacob Zuma het gister hulde gebring aan Castro se vurige ondersteuning van die stryd teen apartheid.
“Ons sal hulde bring aan hom deur die bande van solidariteit, samewerking en vriendskap tussen Suid-Afrika en Kuba te laat voortduur,” sê hy in ''n verklaring.
“Suid-Afrika deel in die Kubaanse volk se verlies en treur saam.”
Man van uiterstes
Max du Preez, wat Castro in 1996 in Havana ontmoet het, sê Castro was ''n man van uiterstes met dieselfde charismatiese teenwoordigheid as dié van oudpres. Nelson Mandela en die voormalige Britse premier Margaret Thatcher.
“Met hom in ''n vertrek het jy net gevoel iemand buitengewoons was dáár. Ek het die verafgoding onder sy landgenote gesien. Hulle het nog met osse geploeg, maar hul oë het geglinster as hulle van hom gepraat het.
“Hy het selftrots en gelykheid vir sy volk gebring waar almal arm, maar terselfdertyd die mees geletterde nasie ter wêreld was en gratis toegang tot mediese sorg gehad het.
“Die ekonomie het egter 40 jaar gelede al vasgehaak en mense het daarna gesmag om net ''n bietjie geld te hê – veral onder die jonger geslag. Hulle het egter met hul armoede vrede gemaak as die prys wat hulle moes betaal om nié deur die VSA gedomineer te word nie.
“Kritiese denkers is in die tronk gestop en daar is geen vryheid van mening of spraak nie. Velkleur van pikswart tot spierwit was geen faktor nie. Castro se revolusionêre denke het dinge reggekry, maar dit is in dié drif waar hy ook vasgehaak het.
“Hy het vir ander lande se vryheid help baklei, maar nie vir dié van sy eie mense nie. Daar was net een Fidel.
“Kuba gaan waarskynlik nooit weer dieselfde wees nie.”– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie