Restaurant gee kos nu00e1 aanval
Restaurant gee kos nu00e1 aanval

Restaurant gee kos ná aanval

Henriette Lamprecht
'n Londense restaurant-eienaar het honderde polisielede en nooddienswerkers ná Woensdag se terreuraanval kosgegee.

Ibrahim Dogus het sy restaurant, Troia, oopgehou sodat die polisie en nooddienswerkers daar kon warm bly en gratis eet. Hy het dit gedoen ondanks die polisie se versoek dat die eetplek sy deure vir die dag moes sluit omdat die restaurant naby die plek is waar die terreuraanval plaasgevind het, berig The Independent.

Die restaurant is naby die Westminster-brug waar Khalid Masood vier mense vermoor het toe hy eers met 'n voertuig in voetgangers ingeploeg en toe 'n polisiebeampte met 'n mes doodgesteek het. Die polisie het Masood daarna doodgeskiet. Dogus het geweier om geld van polisie- en nooddienswerkers te aanvaar. Hy het sy restaurant tot 23:30 oopgehou, totdat al die noodwerkers kos gekry het.

Dogus skat hy het tussen 300 en 500 nooddienswerkers van die polisie, ambulansdienste en brandweer kosgegee.

“Ons wou die noodspan ondersteun. Dit (die aanval) het op ons voorstoep gebeur. Ek werk en woon hier naby en gebruik die Westminster-brug gereeld wanneer ek my kinders skool toe neem. Enigeen van ons kon slagoffers gewees het. Dit was aaklig, maar Londen het gou saamgestaan.”

'n Moslemgeleide fonds is gestig om slagoffers van die Westminster-aanval en hul families te ondersteun. Meer as 25 000 Britse pond (sowat R387 000) is binne net enkele dae vir dié fonds ingesamel.

Hoewel Dogus in 'n Moslemgesin gebore is, beoefen hy nie meer enige geloof nie. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-12-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer