Resessie en beleggings: Wat nou?
Volgens 'n portefeuljebestuurder is die verwagte prys-verdienste-verhouding (pv) van die JSE as geheel oor 12 maande 14 keer.
Hanlie Stadler - Aandele is oor die volgende 12 maande dié Suid-Afrikaanse bateklas waar jy wil wees.
Dis dalk raad wat jy nié verwag het nadat Suid-Afrika amptelik in 'n resessie verval het nie, maar Abri du Plessis, uitvoerende hoof en portefeuljebestuurder van Gryphon Batebestuur, is optimisties dat aandele jou “bateklas van keuse” is as jy oor die volgende paar jaar 'n beter opbrengs as inflasie wil behaal.
Du Plessis se siening sal nie baie gewild onder gewone beleggers wees nie, wie se effektetrustfondse en aandeleportefeuljes die afgelope paar jaar byna botstil gestaan het en, om die waarheid te sê, gedaal het as inflasie verreken word.
Hy gee toe: “Die afgelope drie jaar het inflasiebestrydende bates soos aandele nie gegroei nie. Die sywaartse beweging het net so 'n groot uitwerking op mense se kapitaal gehad as die ineenstorting van die beurs in 2008.”
Du Plessis wys egter daarop dat die verwagte prys-verdienste-verhouding (pv) van die JSE as geheel oor 12 maande 14 keer is. Dit is gelykstaande met die langtermyn-pv van die beurs en beteken dat aandele in die algemeen nou “billik geprys” is.
Dit is 'n goeie plek van waar aandeelpryse sal styg indien die ekonomie kop oplig.
Du Plessis sê die opbrengs op korttermynstaatseffekte en op kontant gaan nie op langer termyn beter as aandele vaar nie. Effekte gaan teruggehou word deur die afgradering van staatskuld.
Die stagnerende ekonomie maak eiendom – veral genoteerde eiendomsmaatskappye wat winkelsentrums en kantoorgeboue besit – op die oomblik riskant. Dit is, om dit sagkens te stel, 'n bateklas met “ 'n groot klomp pyne”.
Vir mense wat in individuele aandele belê, raai Du Plessis natuurlik nie aan om voor die voet te koop nie.
Die swak ekonomie beteken die aandeelpryse van kleinhandelaars en banke gaan selfs verder onder druk kom.
Maatskappye wat 'n groot deel van hul inkomste net in Suid-Afrika verdien, is ook vir eers nie 'n goeie opsie nie.
Du Plessis is minder bekommerd oor die BBP as oor die langverwagte graderingsbesluit deur Moody's Investors Service. Hy verwag, soos die meeste ontleders, 'n afgradering met een vlak, wat staatskuld tot op die laagste beleggingsgraad sal bring.
Du Plessis is méér bekommerd of Moody's die vooruitsig vir die gradering op negatief sal hou – en dus sal impliseer dat 'n verdere afgradering in Desember verwag moet word.
So 'n besluit sal die rand laat verswak, wat goeie nuus is vir mense wat aandele besit in maatskappye wat baie van hul inkomste in die buiteland verdien, soos Naspers, Richemont en ander.
Du Plessis meen hulpbronaandele het nog potensiaal omdat hulpbronpryse stabiliseer of effens styg, maar boonop ook omdat hulle in elk geval hul inkomste in dollar verdien.
HOU BY LANGTERMYNPLAN
Francis Marais, senior navorsings- en beleggingsontleder van Glacier van Sanlam, sê mense moet die resessie in perspektief beskou. 'n Tegniese resessie beteken twee opeenvolgende kwartale van negatiewe kwartaal-tot-kwartaal-groei, maar die groei van jaar tot jaar is darem nog positief op 1%.
Marais sê die swak BBP en laer inflasiekoers gaan na verwagting die Reserwebank dalk “vroeër eerder as later” oorhaal om die rentekoers te verlaag. Dit is goeie nuus vir bates met inkomstestrome ver in die toekoms – groei-aandele en langtermynstaatseffekte.
Maar sy beste raad is: “Wees kalm en kyk na die langtermynplan. Jou risiko het nie verander nie.”
Marais reken die resessie gaan van korte duur wees en mense moenie te veel ag slaan op die korttermynuitwerking daarvan nie.
“Bly rasioneel.”
DIVERSIFISEER
Theo Vorster, uitvoerende hoof van Galileo Capital, sê in sy weeklikse rubriek die Amerikaanse beleggingshuis Vanguard het bewys daar is hoegenaamd geen (0%!) korrelasie tussen BBP-koerse en die prestasie van Amerikaanse aandeelpryse nie.
“Die markte verdiskonteer die swakker wordende prentjie reeds, veral wat betref die prys van maatskappye wie se sake primêr in Suid-Afrika is – van ons banke is op van die laagste waardasievlakke in dekades.
“Onthou ook dat die beste beleggingsopbrengste gewoonlik in tye van lae ekonomiese groei voorkom soos markte vir 'n draaipunt in die toekoms probeer bedag wees.”
Hy sê: “Die goue reël bly 'n goed gediversifiseerde beleggingsportefeulje met blootstelling aan sowel groei- as inkomstebates, hier én in die buiteland, om jou beleggingsdoelwitte te bereik.”
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie