Republikein-stigter Stolla Botha sterf

'n Groot boom in Namibië se destydse sakelandskap het op Stellenbosch geval.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – Een van die laaste bome in Republikein se stigterswoud het geval. Mnr. Stolla Botha is op 10 Maart, 'n week voor sy 88ste verjaardag, op Stellenbosch oorlede.

Geliefdes en vriende het gister, op sy verjaardag, deur middel van ’n virtuele gedenkdiens van hom afskeid geneem.

Botha was destyds nie net ’n bekende ouditeur in Namibië nie, maar het ook ’n gerekende bydrae tot die vis- en vleisbedryf gelewer.

“As geöktrooieerde rekenmeester by PJ Malherbe en Kie, wat later KPMG geword het, was hy ’n bekende lid van die ouditeursberoep. Hy het ná onafhanklikwording ’n belangrike rol gespeel in die erkenning van dié professie in Namibië deur ooreenkomste met Suid-Afrika en ander lande in die wêreld te sluit,” vertel mnr. Albie Basson, wat ’n noue band met hom gehad het.
“Hy was bekend vir sy ongelooflike intellek en goeie kliëntediens.

“Verder ook vir die ondersoek na die visbedryf van Namibië en die verslag wat vrygestel is waarin hy belangrike kommentaar gelewer het. Later was hy betrokke by die samesmelting van die vleisbedryf in Namibië en by die skryf van die Meatco-wet,” sê Basson.

Mnr. Koos Brandt, stigter van Bank Windhoek en ’n jarelange vriend van die Bothas, het in ‘n videoboodskap aan die familie gesê hy dink met heimweë terug aan die stimueerende gesprekke en debatte wat hy, Botha en dr. Jan Spies gehad het. “Stolla was ’n diep denker en ‘n filosoof.”

Sy vrou, Stella, het gister uit Stellenbosch vertel sy onthou goed hoe hard die stigters destyds onder aanvoering van die stigtersredakteur, dr. Jan Spies, gewerk het om die eerste uitgawe op 1 Desember 1977 die lig te laat sien. “Ons het almal gehelp. En ek het nog steeds daardie eerste uitgawe,” het sy gesê.

Die Bothas het in 1996 na Suid-Afrika verhuis, waar hulle by Swellendam gaan boer het. Die egpaar het drie jaar gelede na Stellenbosch verhuis om nader aan hul kinders te wees.

Botha laat benewens sy vrou, ook hulle drie kinders, sewe kleinkinders en een agterkleinkind agter.
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-05-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer