Rentmeesterskap teenoor eienaarskap

Yandi Du Plessis
Elizabeth Mbambi het in Oktober verlede jaar haar eerste geestelike boek getiteld God's ownership vs your stewardship vrygestel.

Die boek is in wese ’n bespreking oor hoe interaksie met God tot 'n meer vervullende en betekenisvolle lewe kan lei, en is vol anekdotes en aanhalings uit die Bybel.

Volgens Elizabeth het ’n ervaring toe sy in Desember 2018 vir die vakansie huis toe is, haar geïnspireer om die boek te skryf.

“Ek is ’n mens wat daaraan gewoond is om alles te beheer, maar gedurende dié vakansie kon ek nie my sin kry nie. Ek is deur ’n situasie gekonfronteer wat ek nie kon hanteer nie, en God het hierdie dilemma gebruik om my ’n waardevolle les te leer, wat my geïnspireer het om die boek te skryf,” vertel sy.

Elizabeth is 'n wedergebore Christen. Hoewel sy in 2009 tot bekering gekom het, het sy innerlike konflik ervaar weens die feit dat sy nie redding of waaroor dit gaan, verstaan het nie.

“Dit was ’n wipwarit. Sedert ek geleer het om ten volle te vertrou, het ek nooit weer teruggekyk nie. Ek het geskryf oor my reis na die Christendom, my verhouding met God, ontmoetings, asook die struikelblokke wat my in die gesig gestaar het.

Die boek is gemik op almal wat op soek is na duidelikheid ten opsigte van hul identiteit of die rol wat God vir hulle in gedagte het. Sy glo die boek kan ’n baken van hoop en lig wees, veral in dié gevaarlike, onsekere tye.

“Wat ek in hierdie boek vir almal wil sê, is dat ek nie praat van 'n God waarvan ek gehoor het nie, maar 'n God wat ek self ervaar het. Ek glo meeste vrae sal deur hierdie boek beantwoord word. Ek was ook verward oor die Christendom, so ek het besluit om na antwoorde te gaan soek en wat ek uitgevind het, het my oortuig om te bly.”

Elizabeth is ook ’n entrepreneur en ’n blogger. Sy is in die Noordedorp Rundu gebore en woon tans in Windhoek. Sy het God's ownership vs your stewardship self gepubliseer.

Die boek is op Amazon, Smashwords, Kobo, Barnes & Noble, OverDrive, Apple Books en Scribd beskikbaar. Hardekopieë is ook beskikbaar by die Radicals-boekwinkel en by Exclusive Books.

Kommentaar

Republikein 2025-05-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer