Renosterhoring deur JSE verhandel?
Geld vir bewaring, veiligheidsmaatreëls nodig
Aldi Schoeman
Private renostereienaars ondersoek die winsgewendste maniere om horing in Suid-Afrika te verkoop en het al die JSE hieroor genader.
Die vraag is of beleggers sou belangstel, aangesien hulle waarskynlik net ’n goeie opbrengs sal kan kry as internasionale horinghandel gewettig word.
Dít sal dalk nooit gebeur nie.
Intussen het die 330 private renostereienaars in die land geld nodig weens die stygende koste van veiligheidsmaatreëls vir die renosters, sê Pelham Jones, voorsitter van die vereniging vir private renostereienaars.
“Van ons 279 lede het 85% in ’n opname gevra dat ’n plaaslike handelsmodel dringend ingestel word.”
’n Moratorium is ingestel op plaaslike handel, maar daar is ’n hangende saak hieroor in die grondwetlike hof.
Jones hoop die hof bevind die moratorium moet opgehef word. Daarom word daar solank aan drie moontlike opsies vir plaaslike handel gewerk:
•Verkoop die registrasie-sertifikaat wat reeds vir elke renosterhoring uitgereik word. Die nuwe eienaar kan dan self die renosterhoring hou of dit laat bewaar in ’n gemeenskaplike silo wat opgerig sal word.
• Maandelikse of kwartaallikse veilings van “klein hoeveelhede” horing van byvoorbeeld 10 kg.
• Om horing op die termynmark te verhandel. Enigiemand in die wêreld kan dan in die horings belê, maar die horing bly in die land so lank as wat dit onwettig is om uit te vat. Die leweringsdatum sal wees wanneer die verbod opgehef word.
Die JSE het bevestig hulle is deur die vereniging genader en sê die gesprekke was oor die noteringsvereistes vir produkte.
Op die vraag wat die moontlikheid is dat die planne wel deurgevoer word, het die JSE geantwoord: “Gedetailleerde beoordelings is nog nie vir dié produk gedoen nie, maar as ’n aandelebeurs streef ons voortdurend daarna om innoverende oplossings vir ons lede en kliënte te vind.
“Daarby is dit ook noodsaaklik dat ons reguleerder, die Raad op Finansiële Dienste (RFD), ons steun. In dié spesifieke geval glo ons die regering sal ook sy steun moet bevestig.”
John Hume, Suid-Afrika se grootste renosterteler, het met ’n hofsaak teen die regering begin en die hooggeregshof en appèlhof het in sy guns beslis.
Die regering het egter na die konstitusionele hof geappelleer en die uitspraak word binne weke verwag.
Jones sê plaaslike handel kan renostereienaars help wat nou geld nodig het, maar dit sal net ’n tussentydse oplossing wees.
“Beleggers sal hoop dat hulle iewers in die toekoms wel in staat sal wees om die horings internasionaal te verkoop.”
Internasionale handel word deur die Konvensie oor die internasionale handel in bedreigde spesies (Cites) verbied.
Swaziland het ’n voorstel ingedien om internasionale handel op sy vergadering wat van 25 September tot 5 Oktober in Johannesburg gehou word, goedgekeur te kry. Selfs al word die voorstel goedgekeur, sal dit net Swaziland geld.
Michael Eustace, ’n afgetrede beleggingsbankier wat betrokke is by die bestuur van parke in Malawi en Zambië, steun internasionale handel, maar sê beleggers sal net belangstel in plaaslike handel as hulle die horing teen ’n lae prys kan kry.
Beleggers sou dit teen 40% van die groothandelprys wil koop.
Die bedrag wat op die oomblik vir onwettige handel genoem word, is U$30 000 per kilogram. “Boere gaan huiwerig wees om dit teen daardie prys te verkoop tensy hulle desperaat is.”
Die WWF in Suid-Afrika is gekant teen alle handel in renosterhoring.
Dr. Jo Shaw, hoof van Suid-Afrika se renosterprogram, sê een rede vir die moratorium is kommer dat horing wat plaaslik verkoop word, onwettig op die internasionale mark beland.
Daar is ook kommer dat stropery kan toeneem indien die verkoop van renosterhoring bevorder word.
“Die bestuur van wettige plaaslike verkope sal verdere druk plaas op wetstoepassingspersoneel wat reeds oorwerk is en hard werk om ons renosters te beskerm.
“Daar is nie ’n plaaslike mark vir renosterhoring nie en dit is moeilik om te sien hoe plaaslike handel gaan werk sonder toegang tot die internasionale mark.”
-Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie