Renaldo diu00e9 week geopereer nu00e1 fraktuur
Renaldo diu00e9 week geopereer nu00e1 fraktuur

Renaldo dié week geopereer ná fraktuur

Rugby
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Die ongeluksvoël het weer op die Namibiese rugbykaptein Renaldo Bothma gepik toe hy Maandagaand sy voorarm gebreek het.

Bothma het gister die fraktuur op sosiale media bevestig nadat hy die vorige aand die eerste keer die tweedespantrui van sy nuwe Engelse klub Harlequins oor die kop getrek het.

Volgens hom is dit dieselfde linkerarm wat hy in sy laaste Superrugby-wedstryd vir sy vorige unie, die Blou Bulle, gebreek het. Hy sal glo einde vandeesweek ’n operasie ondergaan.

Beserings het die vurige losvoorspeler die afgelope maande gery, nadat hy vanweë ’n voetbesering ook maar min speelkans by die Bulle kon afdwing.

Hy het sy teleurstelling in ’n inskrywing op sosiale media laat blyk, nadat hy die voorseisoense program by Harlequins voltooi het en uitgesien het om sy terugkeer na die speelveld te maak.

Die Namibiër sou Maandagaand sy eerste kans vir die klub se tweede span teen die Exeter Braves kry en sou hoop om algaande druk op die gevestigde eerstekeuse lostrio van Chris Robshaw, Dave Ward en Jack Clifford te plaas, wat onderskeidelik reeds in 239, 117 en 66 wedstryde vir die klub gespeel het.

In Juniemaand het Bothma die nasionale span in drie wedstryde by die Nasiebekertoernooi in Uruguay aangevoer, wat verloortoetse teen Rusland en Spanje ingesluit het.

Ná sy besering het Rohan Kitshoff die leierskaptaak oorgeneem toe Namibië die Afrikabekertitel suksesvol verdedig het.

• Bothma het die hoogste profiel van die Namibiese rugbyspelers wat tans in Engeland gekontrakteer is.

Die slot Tjiuee Uanivi se aansluiting by London Scottish is in Juliemaand deur die klub bekend gemaak, waar hy oorgehaal is om ’n nuwe begin te maak nadat ’n lastige skouerbesering sy vordering by Glasgow Warriors in die wiele gery het. London Scottish ding tans in die tweede hoogste liga in Engelse rugby (RFU-kampioenskap) mee.

Die Namibiese vaskopstut Collen Smith het ook onlangs die nuwe seisoen by ’n laerliga-klub in Engeland, Bury St. Edmunds, begin en is dus bestem om ook die hele eerste helfte van 2017 daar te speel.

Kommentaar

Republikein 2025-06-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer