Reën verspoel paaie in Suide

Reistoestande
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg – Verskeie paaie in die Suide het ná die afgelope swaar reën verspoel en is beskadig.

“Alle motoriste word versoek om versigtig in die suidelike deel van die land te bestuur, want daar kan paaie beskadig wees waarvan die Paaieowerheid (RA) nog nie bewus is nie,” maan die RA op sy Facebook-blad.

“Ons onderhoudspan werk onverpoosd om die toestand van die paaie te inspekteer en te verseker dat waarskuwingspadtekens opgerig word.

“Alle padgebruikers moet vir hul veiligheid die waarskuwingstekens gehoorsaam,” beklemtoon die RA.

“As die goeie reën voortduur, doen ons ’n beroep op alle motoriste om uiters versigtig te bestuur. Pas jou spoed aan volgens die toestand van die pad,” het die woordvoerder van RA, me. Hileni Fillemon, gister aan Augetto Graig gesê.

Die volgende paaie is volgens die RA beskadig:

• Die B1-hoofroete vanaf Grünau na Keetmanshoop by die Guruchabrivierbrug se oostelike padskouer is erg beskadig.

“Die pad is oop vir verkeer, maar ons het padtekens opgerig om padgebruikers oor die beskadigde deel te waarsku. Die pad is nie breed nie, so wees baie versigtig,” sê Fillemon.

• Die MR 27-hoofpad of toeristeroete C16 vanaf Keetmanshoop na Aroab is op verskeie plekke beskadig.

“Die suidelike baan is plek-plek weggespoel en die pad is tans net vir 4x4-voertuie toeganklik. Eienaars van klein voertuie moet tot verdere kennisgewing liewer nie van die pad gebruik te maak nie,” sê Fillemon.

• Die grondpaaie, MR 22 en distrikspad D271 tussen Noordoewer en Karasburg, is beide tans tydelik vir verkeer gesluit nadat dele by rivierlope verspoel het.

“Padgebruikers word aangeraai om vanaf Noordoewer na Karasburg die teerpad via Grünau te gebruik,” sê Fillemon.

• Die D210-distrikspad by die Homrivierbrug by Warmbad is ook tydelik weens die skade aan die brug gesluit.

Die RA sal die publiek daagliks oor die toestand van paaie in die Suide op die hoogte hou.

Besoek gerus hul Facebook-blad, Roads Authority Namibia, en ander mediaplatforms.

Die RA rig ’n versoek aan die publiek om enige padskade by die naaste RA-kantoor aan te meld, of stuur ’n e-pos aan [email protected].

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer