Reën maak van ons almal een groot familie
Tanja Bause - Toe die kans opduik om die lelies op die plaas Sandhof by Maltahöhe in die suide in volle blom te sien, het ek gedink dit is 'n móét sien.
Dit is immers die eerste keer in vier jaar wat die lelies uiteindelik weer blom.
Ek besluit om die grondpad net buite Rehoboth te vat wat na Klein-Aub lei en so grondpadlangs Maltahöhe toe te ry.
Oral was water, in die veld en op die pad en dit was duidelik dat dit die vorige nag goed gereën het.
Die eerste mense wat ek langs die pad teëkom, is ’n man en ’n seun op ’n donkiekar. Ek stop en knoop ’n geselsie aan.
“Dit het baie mooi gereën die laaste paar dae én my donkie is sommer dragtig,” vertel die man met ’n groot glimlag.
Ek ry verder en stop langs 'n groot poel water om my ontbyt, wat ek spesiaal vir die langpad ingepak het, te eet.
Dit is wonderlik om te sien hoe die skoenlappers en naaldekokers die poel water geniet.
Van oral hoor jy paddas wat luid vir mekaar groot reënstories vertel en die veld ruik en lyk silwerskoon.
Net ’n entjie verder ry ek oor die eerste rivier wat loop.
Natuurlik moet daar weer gestop word. Die rivier loop nog redelik sterk en jy hoor die water oor die klippe gorrel en gly. ’n Plaasboer kom uit die veld aangeloop.
“Ai, ons harte is tog so bly vir die water van Bo,” sê hy dankbaar.
Hoe verder ek suid ry, hoe meer besef ek daar is nog baie dele wat egter nog baie min of geen reën gehad het nie.
Hier en daar is 'n plaasdam met water, maar die veld rondom lyk sleg en droog.
By die hotel op Maltahöhe kry ek die roete na die lelies.
Sandhof is sowat 35 kilometer uit die dorp op ’n grondpad geleë.
"Kyk vir 'n gazebo en ’n man langs die pad wat verdere aanwysings sal gee."
Nie te lank nie en daar staan die man.
"Die lelies is nie meer ver nie, julle is byna daar," sing hy amper.
Oral is mense - van oud tot jonk.
Voertuie word gestop, mense peul uit, skoene word uitgeskop en daar word pan toe gehardloop.
’n Vrou staan nader; sy het by die hotel gehoor ek is van die koerant.
“Het julle so ver gery net om die blomme te kom kyk?”
“Ja,” sê ek, “seker soos Mevrou ook gedoen het.”
“Toe ek hoor die blomme gaan oor ’n naweek blom, sê ek vir my man ons pak die kar en laai die mense en ons gaan ry, en dit is presies wat ons gedoen het!”
Die atmosfeer by die lelies is ongelooflik. 'n Mens kan die opgewondenheid in die stemme en die gelag hoor.
“Ek dink die pad vanaf Maltahöhe tot hier was verder as 35 km, maar dis beslis die moeite werd,” sê die vrou.
Ek stem saam en besef ek moes iets te ete by die hotel bestel en saamgebring het.
“Daar is kos in ons kar, stap saam en kom eet gou ietsie,” nooi sy.
En dít som alles op.
Ons almal was een groot familie, deel van ’n ongelooflike natuurwonder.
Met die terugry was daar nog talle vloeiende riviere. Net voor Rehoboth lyk dit asof die hele dorp langs en in die rivier is.
Mense braai en speel in die water. 'n Partytjie-atmosfeer hang in die lug.
“Kom parkeer en spring in die rivier!" word daar vanuit die rivier genooi.
Reënwater, maak nie saak hoeveel nie, bring Namibiërs, oud en jonk, bymekaar.
Dit maak ons dankbaar, dit maak van ons een groot familie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie