Reën kan nog tot môre duur

Die weerkantoor verwag in die volgende dae neerslae in verskeie dele van die land.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Die afgelope paar dae se reën het nie net veroorsaak dat onder meer die Omaruru- en Omakunderivier by Okahandja in vloed kom nie; Windhoek se Avisdam het ook ‘n invloei van water gehad.

Die Namibiese weerkantoor se hoofvoorspeller, mnr. Odillo Kgobetsi, is van mening reënneerslae kan steeds vandag en môre op plekke voorkom, maar dit sal teen Saterdag opklaar.

Volgens amptelike reënsyfers wat die weerkantoor byhou, is daar teen gister 06:00 oor ‘n tydperk van 24 uur 15 mm reën op Otjiwarongo en 5 mm op Outjo gemeet, terwyl Khorixas 4 mm reën gehad het.

Op die Facebookblad Reën in Namibia het mnr. Sigi von Lüttwitz laat weet 40 mm reën is gister by die Swart Nossob noord van Seeis ontvang, terwyl verskeie video’s in sosiale media versprei is om te wys hoe die Avisdam Dinsdag water ingekry het.

Mnr. Frank Bockmuhl het ook vroeg gisteroggend laat weet nog 15 mm is Dinsdagnamiddag op Tsuwandes wes-suidwes van Outjo ontvang. Me. Brenda Hoffman het ook gistermiddag laat weet dit het 10 mm deur die nag 2 km buite Outjo op die Khorixas-pad gereën.

Me. Ronelle von Molendorff Steyn het Dinsdag op die Facebook-blad laat weet dit het nog nie in Tsumeb gereën nie.

Die weerkantoor het op 1 April 25 mm reën op Gobabis gemeet en 10 mm op Okaukuejo.

Die afgelope naweek het dit ook onder meer by Keetmanshoop, Usakos, Grootfontein, Sesfontein, Windhoek en Oshikango gereën, met die weerkantoor se amptelike syfers wat op 19,5 mm vir Sesfontein staan.

Sowat 7 mm is Sondag by sy hoofkantoor in Windhoek gemeet, terwyl dit glo 5,6 mm op Oshikango gereën het. Die weerkantoor het Sondag ook 3,2 mm by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako gemeet.

WEERKANTOOR SE VOORSPELLING

Die weerkantoor verwag dat reënneerslae steeds vandag in die verre noordwestelike dele van die Kunene-, Otjozondjupa- en Khomasstreek kan voorkom, asook in die oostelike dele van die Hardapstreek.

Enkele wolke kan hul verskyning in die Kavango- en Zambezistreek maak, maar dit sal droog in die Verre Weste en Suidweste wees.

Die weerkantoor verwag dat dié reënweer môre later in die dag sal uitbrei na die Kavango- en Zambezistreek, maar dit sal steeds droog in die verre weste en suidweste van die land sal wees.

Buiten enkele donderbuie in die Noordooste, verwag die weerkantoor nie veel reën vir Saterdag en Sondag nie. Na verwagting sal die suidelike helfte van die land droog raak, met enkele wolke in die ooste, weste en sentrale dele van die land.

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer