Reimers mik nou vir internasionale arena

Die Windhoeker het sy professionele status verdien en kan nou in die buiteland sy merk gaan maak.
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Sven Reimers, Namibië se sterkste man, het die afgelope naweek in Rustenburg aan die 2018 Africa's Strongest Man-kompetisie se professionele afdeling deelgeneem waar hy 'n vegtende vyfde plek behaal het.

Dit was Reimers, wat vandag sy 26ste verjaarsdag vier, se eerste deelname in die pro-afdeling waar hy teen ysters soos Johan Els van Suid-Afrika deelgeneem het. Die reusagtige Els wat die byeenkoms gewen het, is tans die sesde beste kragman ter wêreld.

In die kompetisie wat verlede Vrydag afgeskop het, het fiksheid baie getel. Reimers vertel self van sy ondervinding.

“Die kompetisie het oor drie dae gestrek en dus het fiksheid 'n groot rol gespeel. Weens 'n tekort aan geld en borge, het ek nie juis genoeg tyd gehad om reg en genoegsaam vir die kampioenskap te oefen nie. Die gevolg was dat ek nie seker was of ek ooit gaan deelneem nie.

“Ek het toe maar my trots gesluk en op Facebook vir donasies gevra en ek het baie waardering vir die positiewe reaksie.

“Die Max Deadlift en Max Log-kompetisies gaan oor tegniek, uithouvermoë asook ondervinding. Dit kan met marathonne vergelyk word waar die atleet oor die jare verbeter. Dit het goed gegaan en Sondag was ek derde geplaas, maar met die lorrietrek van 15 ton het ek baie punte verloor, want ek kon nie die gedoente oor die laaste bult 5 meter voor die eindstreep kry nie en dit het ook 'n paar sentimeter agtertoe beweeg. Ek het toe na die vyfde posisie teruggesak, waar ek toe ook geëindig het.

“Ek het eers verlede jaar met die sport begin, maar weens die gebrek aan dié tipe kompetisies op plaaslike bodem, moet ek buite Namibië reis om ervaring op te bou en 'n naam vir myself te vestig. Gelukkig verbeter ek soos die tyd vorder en met Etienne Mostert as my afrigter sal ek heelwat verbeter.

“Ek is baie opgewonde oor die kompetisies wat volgende jaar voorlê. Etienne sal dan meer tyd hê om my te help sodat my krag en tegniek kan verbeter. Mostert is 'n ervare afrigter en weet wat hy doen. Ek het byvoorbeeld 'n maand voor dié kompe­tsie 'n ligte besering opgedoen, maar hy het my spoedig weer op die regte pad gekry.

“Ek is geweldig trots op my prestasie, wat nie maklik gekom het nie, maar wat met harde werk en deursettingsvermoë behaal is.

“Ná die naweek se kampioen­skap het ek my professionele status verwerf. Dus kan ek nou oorsee teen die wêreld se beste spiermanne en geldverdieners begin kragte meet, maar ek benodig steeds borge om dit te kan vermag.

“Die Southern Hemisphere Strongman Union het my pas genooi om volgende jaar die laaste naweek van Maart in Australië te gaan deelneem. Dit is 'n geweldige groot kampioen­skap en borge kan my toekoms as kragman maak of breek.

“Ek wil ook binnekort aan die World's Strongest Man-kampioen­skap deelneem waar wyle Anton Boucher (toe 21 jaar) in 1994 die eerste Namibiër was om sy merk as finalis te maak. Ongelukkig is my salaris net te min om al die onkoste te dek en ek hoop om borge kry wat geweldige groot blootstelling tydens dié tipe kompetisies ontvang,” het Reimers aan Republikein vertel.



DIE PROGRAM

Op die eerste dag het Reimers 320 kilogram in die Max Deadlift-dissipline bemeester en het by die Max Log 140 kg bo sy kop uitgestoot.

Die tweede dag is begin met 'n buiteband van 450 kg wat die deelnemers binne 'n minuut soveel keer as moontlik moes omdop. Volgende was jukstap (Yoke Walk) met 460 kg op die skouers oor 'n afstand van 25 m binne 60 sekondes, gevolg deur Kettle Throw-gewigte van 12 kg, 20 kg, 25 kg, 25 kg en 30 kg wat binne 'n minuut agteroor oor 'n hoogte van 4.6 m gegooi moet word.

Op dag drie moes die kragmanne 'n vragmotor van 15 ton oor 25 m trek met 'n effense opdraand en 'n bultjie 5 m voor die eindstreep. Die Atlas Stone is 'n massiewe ronde sementbal wat 180 kg weeg en wat binne 'n minuut soveel keer moontlik van die grond af oor 'n dwarslat van 1.4 m hoog gelig moet word.

Kommentaar

Republikein 2026-06-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer