Rehoboth swyg oor dubbele salarisse
Rehoboth swyg oor dubbele salarisse

Rehoboth swyg oor dubbele salarisse

Werknemers by ’n beleërde plaaslike owerheid in die Hardapstreek is glo verlede maand vir die soveelste keer dubbel betaal.
Denver Kisting
Denver Kisting – Die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, dr. Peya Mushelenga, het Vrydag gesê beweerde ongerymdhede met die betaling van salarisse by die Rehoboth-dorpsraad is nooit onder sy aandag gevestig nie.

Op 28 Januarie is ’n kennisgewing oraloor by dié plaaslike owerheid se perseel opgeplak met die onderwerp: “Double Salary Payment for January Salary”.

Die dokument is deur mnr. Simeon Kanime, die dorpsraad se uitvoerende hoof, uitgereik.

Hy sê daarin dit het sy ore bereik “dat daar personeellede is wat tydens Januarie dubbel betaal is”.

Ten tye van die uitreik van die kennisgewing, het “net ’n paar personeellede so ’n fout by die geskikte kantoor aangemeld en reëlings vir terugbetaling getref”, lui die skrywe.

Dít maak hom bekommerd, het Kanime gesê.

“Die raad is in kontak met die bank om name van personeellede te bekom wat verkeerdelik baat gevind het,” het hy voorts gesê.

Hy het toe ’n beroep gedoen op die onbekende aantal werknemers, wat uit die beweerde fout voordeel getrek het, om dringend met die waarnemende finansiesbestuurder, me. Darlitha Lupahla, in verbinding te tree om reëlings vir terugbetaling te tref.

Sou hulle nie aan daardie pleidooi gehoor gee nie, sal “dringende regstellende stappe” gedoen word, maan die skrywe voorts.

Die aard van die stappe word nie onthul nie.

Bondige repliek

Al wat Kanime bereid was om by navraag te sê, was: “Dis ’n interne aangeleentheid wat ons vriendelik opgelos het.”

Republikein het hom onder meer gevra om die feit dat dubbele salarisse betaal is, te bevestig en hoeveel werknemers daardeur geraak is.

Eweneens, het die koerant gevra wat die finansiële implikasies van die dubbele betaling is.

Kanime is ook gevra watter planne bestaan om die geld te verhaal en, indien enigiets, hoeveel reeds verhaal is.

Die uitvoerende hoof is voorts gevra wat tot die beweerde fout aanleiding gegee het en of stappe gedoen sal word teen enigiemand wat nalatig opgetree het.

Hy is ook gevra om te reageer op ’n bewering dat dit nie die eerste keer was wat dit gebeur het nie en hoekom dit skynbaar ’n herhalende gebruik is.

Kanime het op geeneen van dié vrae gereageer nie.

Mushelenga het Vrydagoggend gesê: “Dankie. Nee, dit is nie onder my aandag gevestig nie.”

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-09-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer